Nóg sukses vir Wellington Krieketklub
2006-04-06
DIE Wellington Krieketklub het Saterdag nog ’n stukkie blinkware by sy versameling gevoeg toe sy eerste span die Boland se eendagkompetisie op skouspelagtige wyse gewen het.
Wellington se Sarel Wolmarans het die wenlopies in die eindstryd teen Paarl-Oos Krieketklub met ’n sierlike ses oor middebaan gemoker.
Volgens die voorsitter van die Toyota Wellington Krieketklub, Piet Hanekom, is dit die eerste keer in twee dekades dat die klub enige noemenswaardige trofee inpalm.
Dit was ’n dubbele lekker vir die Wellingtonners aangesien hulle ook vanjaar die Top 8 afdeling van die Boland se Premierliga gewen het.
Wellington het Saterdag die loot gewen en Paarl-Oos ingestuur om te kolf op die blad van die Parys-veld.
Die Paarliete behaal 181/5 in hul toegelate 45 boulbeurte, met David Stevens (54 4x7) en Roswin Jephtha (49nun 4x2, 6x2) wat lopies kry.
Wellington behaal 186/5 nadat Wolmarans (27nun 4x2, 6x2) met sy groot hou die Wellington-ondersteuners luidkeels laat juig het.
Die wenspan se groot kanon was egter Jaco Carstens wat 'n onoorwonne 66 gemoker het wat vier grenshoue ingesluit het. Stiaan van Zyl (30 4x2) het ook onder die boulwerk ingeklim.
Craig Abrahams (1/17 in 9bb) was die enigste bouler wat teenstand gebied het.
Wellington se sukses dié seisoen voorspel net goeie dinge vir die klub se toekoms.
Die gemiddelde ouderdom van dié jong span is 22 wat beteken dat die afrigters nog 'n lang pad met die talentvolle groep spelers kan stap.
As die klub die kern van sy spelers kan behou, sal hy beslis volgende seisoen weer onder die voorste spanne in die Boland se Premierliga wees.
Op die veld langsaan het Paarl-Oos II vir Maties II (107) met nege paaltjies geklop vir die eendag-titel in die Premier-Reserwe-liga.
Paarl-Oos se uitblinkers was Koos Liebenberg (3/13 in 7bb), Justin Watts (3/20 in 9bb), Zynodean Fredericks (3/22 in 9bb) en Ashley Pedro (56nun 4x7, 6x1).
More
News
|