Dié pad moet dringend verbreed word
2006-04-12
IN 1991, toe ek die eerste keer tussen Wellington en Paarl begin pendel het, kon die roete langs Jan van Riebeeckweg as ‘n rustige Sondagmiddaguitstappie aangepak word. Vandag is dit spitsverkeer wat amper dié op die N1 ewenaar.
Alhoewel Jan van Riebeeckweg (R301) volgens my wete ‘n provinsiale pad is, wil ek graag van die Munisipaliteit weet of daar vir die nabye toekoms beplan word om die enkelbaan vanaf die Palmietrivier noordwaarts tot by Dalvale te verdubel.
Hierdie stukkie pad dryf menige motoris tot raserny weens die bottelnek wat dit in die verkeersvloei veroorsaak.
Daar is vir ons as pendelaars nie veel alternatiewe roetes nie, behalwe om Drommedarisstraat aan te durf as jy in die Paarlse middedorp wil wees, dog jy het ‘n 4x4 nodig om in die straat te ry!
Die verlenging van Bergrivier Boulevard vanaf sy aansluiting met Optenhorststraat noordwaarts blyk die oplossing vir ons Wellingtonners te wees, dus wil ek weet of daar enige beplanning van die roete is en wat na my beskeie mening die druk op Jan van Riebeeckweg sal verlig.
Ons besef dat verbetering aan die paaienetwerk miljoene sal beloop en dat die behoeftes van ander paaie in die Provinsie dalk hoër is, maar as ons nie op hoogte gebring word van wat beplan word nie, bly ons oningeligte inwoners, en oningeligte inwoners kan gefrustreerd raak as dienste nie gelewer word nie.
Op ‘n positiewe nood, dankie vir die “nuwe” Jan van Riebeeckweg vanaf Markstraat tot by die N1!
A Fourie, Wellington
Die Munisipale Woordvoerder reageer: ‘n Vervoermeesterplan is gedurende 2003 vir die Paarl/Wellington munisipale area opgestel en het verskeie projekte op die kort-, medium- en langtermyn geïdentifiseer vir implementering. Die hoofvervoerroetes in dié verband is Jan van Riebeeckweg, Bergrivier Boulevard noord- en suid-verlenging asook Van der Stelstraat-verlenging. Die Jan van Riebeeckweg suidverbreding vanaf Markstraat/Langenhovenlaan sirkel tot die N1 was ‘n eerste prioriteit en sal teen April voltooi wees. Die beplande verlenging van Bergrivier Boulevard suid as aansluiting met die N1 is as gevolg van die Paarl Mall gedeeltelik geïmplementeer en deur die ontwikkelaar gefinansier. Die opgradering van die hoofroetes tussen Paarl en Wellington is deel van die vervoermeesterplan en sal soos fondse beskikbaar is, aangepak word. Die roetes is provinsiale hoofpaaie en die befondsing word deur die PAWK voorsien. Die vervoermeesterplan is op ‘n rekenaarmodel. Die her-prioritisering van behoeftes kan met nuwe verkeerstellings verkry word om sodoende die veranderde behoeftes aan te spreek.
More
News
|