Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


MIV/Vigs en die rol van armoede

MIV/Vigs en die rol van armoede
 
2005-04-07


SAAM met my kliniekspan het ons mense sien doodgaan, die vreugde van beter word beleef, die hartseer van verliese gevoel, onpeilbare woede gesien, onreg aangevoel en met verwondering die lewe aanskou.

Só vertel dr Nelis Grobbelaar van MIV/Vigs en veral die invloed wat armoede op sy pasiënte het.
“Ek praat met u uit die agtergrond as ’n seun van die Paarl wat die afgelope 12 jaar werksaam is as geneesheer in die staatsdiens in die Paarl.
“Gedurende dié tyd het ek noodgedwonge, maar baie keer vrywillig, betrokke geraak by die gemeenskap en by organisasies wat hul beywer om ons vallei te verbeter of te verander.

“Die afgelope twee jaar is ek meer en meer bewus van die ‘dinge’ wat mense se lewens beinvloed, nadat ons ’n MIVVigs-kliniek begin het.

“Ons volg nou meer as 1000 individue op en het reeds 400 op lewenslange ARV-behandeling geplaas.

“Persoonlik raak ek al meer en meer bewus daarvan dat in die mees gewone dinge of gebeure van die lewe, goed of sleg, ’n dieper dimensie skuil, ’n stukkie ekstase, ’n aanraking van liefde, die wete van God se liefdevolle teenwoordigheid.

“As mediese wetenskaplikes bemoei ons ons met bewysbare feite en is die sogenaamde sigbare werklikheid dít waarmee ons besluite neem, tog beleef ek dat die sigbare nie die enigste werklikhied is nie, maar dat daar ook ’n geestelike dimensie is en dat pasiënte hul daarna keer.

“Die beloning vir die geneesheer is dat jy in die teenwoordigheid van ’n ongeneeslike siekte soos HIV die lewe saam met jou pasiënte leef en getuig dat: ‘The glory of God is a human being fully alive’.

“Soms leef mense eers ten volle wanneer die lewe bedreig word in die teenwoordigheid van ’n ongeneeslike siekte.

“Waarom verander pasiënte, wat bring die transformasie, watter rol speel die gemeenskap en hoe kan ons die veranderings bespoedig?

“Hoe lyk die gemeenskap waarin sy inwoners die vryheid het om ten volle te kan leef? “Hoe lyk die strukture in die gemeenskap wat die individue ondersteun?
“Hoe ’n groot rol speel armoede?” is maar ’n paar van die vrae wat hy homself gereeld afvra.

“Die afgelope tien jaar het ek my tot ’n meerdere en ’n mindere mate met die vraagstukke vanuit mediese oogpunt bemoei en ook betrokke geraak by organisa-sies buite die mediese kring.

“In dié proses het ek saam met baie ander lesse geleer en leer ek elke dag meer.

“Ons almal wil graag verandering sien en is baie uitgesproke en oortuig daarvan dat die wêreld moet verander en dat dit onaanvaarbaar is dat ons leiers niks doen nie.

“Geleidelik sal ons dinge anders begin doen en dan heel laaste sal ons anders ‘wees’. Change is not only about ‘doing,’ but also about ‘being’.

“Ons sien dit in ons pasiënte, baie keer verwag hul eers dat almal om hulle moet verander voor hulle verander, die dokter en die kliniek moet aanvaarbaar wees, dan wil hulle eers kyk of die medikasie sal werk en dan neem hul die medikasie en dan eers ‘raak’ hul anders.

“Die ironie is dat hulle familie hul eers begin verstaan nadat hulle vrede gemaak het.

“Die kliniek raak ’n aangename ondervinding en die wêreld ’n plek wat hul kan verander en wil verander die oomblik wanneer hulle hulself aanvaar en verander.

“Die afgelope dekade of meer was daar ongelooflike politieke verandering in ons land.

“Danksy die politici het ons lewens op baie terreine dramaties verander.

“Niemand kan weg redeneer dat die politiek met sy vermoë om wette te maak ’n ongelooflike instrument tot verandering is.

“Soms hoef daar nie eers wette gemaak te word nie die lewens van mense te verander. Só het ons eers politieke wil benodig voor ons ARV’s vir pasiënte kon gee.

“Die ander groot instrument tot verandering is die ekonomie.

“Die eerste paar maande van die jaar gaan dit relatief goed met die pasiënte by ons kliniek, daar is werk op die wingerde, maar kom die winter dan is die geldjies skraps en die swaarkry ry ons.

“Die grootste krisisse wat ons al beleef het, is as ’n fabriek sluit en daar is nie meer werk nie. Die beursie is ’n harde stem in ons gemeenskap.

“Die politiek en die ekonomie is twee bedmaats wat daarvan hou om die wêreld te beheer en hoogstens die res van die wêreld verdra.

"Soms ook genadeloos as jy durf in hul pad kom...

“Ons het gemaklik geraak daaraan dat die politiek en die ekonomie bepaal wat gebeur rondom ons.

“Sonder hulle toestemming gebeur min. So, ons kan aanvaar dat nie veel gaan verander in die toekoms nie.

“Het die tyd nie aangebreek dat ons nou begin soek na ander oplossings vir die wêreld nie?

“Oplossings buite die politiek en buite die ekonomie nie.

“Dat hóé ons dinge doen, net so belangrik is as wát ons doen.

“Dat om goed te wees en om te gee, ’n groot instrument tot verandering word.

“Dat ons nie dinge sal doen om die politici te plesier nie of om ekonomies suksesvol te wees nie, maar dat ons dit sal doen omdat ons ’n passie vir die lewe het en omgee vir die lewe.

“Dit is ook waar dat die verandering wat deur omgee, ‘care’ teweeg gebring word, baie keer deur individue geskied.

“Die verskil wat een persoon kan maak, kan nie beperk word nie.

"Die een persoon verander sy familie, die familie verander die buurt, die buurt verander die dorp, die dorp verander die land die land verander die wêreld.

“Die tyd het aangebreek dat mense die krag van omgee moet ontdek, die ekstase daarin moet beleef en die aanraking van liefde moet voel.

“Soos ons daarna streef om ekonomies sterk en onafhanklik te wees, só moet ons daarna streef om goed te doen, met dieselfde passie waarmee politiek soms bedryf word, moet ons omsien na ons welsynorganisasies en dit moet mode wees om om te gee.

“Valcare moet mense instaat stel om die wêreld te verander."



More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za