Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wilde Willemien 'n treffer

Wilde Willemien 'n treffer
 
2006-04-12


DIE bekende Wellingtonse skryfster Riana Scheepers se eerste kinderboek “Die avonture van Wilde Willemientjie” is pas by die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees bekend gestel, waar dit behoorlik ’n treffer onder boekliefhebbers was.

Dié prenteboek was die topverkoper in die Boekeparadys waar twee besendings daarvan opgeraap is. ’n Aanhanger het dit nie verniet as “die heel beste ding in die Afrikaanse kinderliteratuur sedert Smarties en roomys” beskryf nie.

Daarby is Niël Rademan se gelyknamige musiekverwerking van die teks, wat ook op die fees die lig gesien het en hand-aan-hand met die boekbekendstelling gegaan het, met die gesogte Kanna-toekenning as beste kinderproduksie beloon.

Die uitbundige, selfs woeste, prenteboek vol rymvernuf en die tekeninge van Vian Oelofsen vertel die avonture van ’n baba wat nie om dowe neute Wilde Willemientjie heet nie.

Dié lewendige meisiekind dryf nie net haar ouers teen die mure uit met haar kaskenades nie, maar vermorsel sommer ook ’n skurk of twee wat oor haar pad kom.

Saam met haar ewe onnutsige dieremaats reis hulle deur die wêreld, beleef wonderlike avonture en sorg vir ’n groot, vet makietie oral waar hulle gaan.

Willemientjie is slim, waaghalsig, en baie, baie dapper. Dié wonderbaba is ’n kind wat eenhonderd persent in harmonie met die ekologie leef.

Rademan se toonsetting van “Wilde Willemien” was ’n energieke, vrolike, interaktiewe opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme.

Rademan, ’n Stellenbosser met sy wortels in die Suid-Kaap, het die regie en musiekregie behartig, en ook die klavier in die produksie gespeel.

Lindi Smit het die ouma, Cassandra en die bose jagter gespeel, Deon van Zyl die oupa, die skelm skurk en die gemsbok en Burnese Cronjé was die onweerstaanbare Willemientjie). Die stelontwerp is gedoen deur die Nederlandse skilder Jacolene de Haan.

Die boek, wat deur Tafelberg uitgegee word, is by enige goeie boekwinkel te koop, of kan bestel word by 0800 220 224 tolvry of www.kalahari.net.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za