Diewe steel vir Tik
2006-04-12
DIEWE het Sondagnag by die skeikundeklas van Bergrivier Sekondêr ingebreek en ’n groot getal proefbuise en pipette gesteel, vermoedelik vir die rook van die dwelm Tik.
Dit is die derde voorval in minder as ’n maand en ’n half waar daar op presies dieselfde plek ingebreek is by die skool.
Die diewe het op die tweede verdieping van ’n buitelokaal deur die plafon gebreek en hul pad gevind na ’n stoorkamer langs die skeikundeklas, waar skeikunde-toerusting gestoor word.
Sodoende word die alarmstelsels, wat in elke klaskamer is, nie geaktiveer nie.
Met elke inbraakslag is proefbuise, termostate en gasbranders gesteel, en die skade beloop reeds meer as R20 000.
’n Woordvoerder van die skool, Hendrik le Fleur, het gesê behalwe die inbrake, word daar dikwels oor naweke op die skoolgronde oortree, dagga gerook en in die gange ontlas.
“Dit is glad nie lekker vir die onderwysers en leerders van die skool om na sulke omstandighede by die skool aan te kom nie,” het ’n gefrustreerde Le Fleur gesê.
“Ons vermoed dat die rede hoekom dié toerusting keer op keer gesteel word, is vir die rook van Tik.”
Die polisie se hulp is ingeroep en daar is vingerafdrukke in die plafon gevind wat hopelik sal lei tot die skuldiges se inhegtenisname.
Hendrik het gesê dat weens hierdie dade, Bergrivier Sekondêr gedwing is om hul sekuriteit drasties op te knap.
“Ons beoog om so gou as moontlik tralies op die stoepe van die buitelokale te sit, wat sal keer dat kwaaddoeners toegang tot die plafonne sal hê.
“Alhoewel dit vir ons baie geld gaan kos, is ons noodgedwonge om ons skool se besittings te beskerm.
“Ons kan dankbaar wees dat ons waardevolle toerusting soos rekenaars en oorhoofse-projektors ongeskonde gebly het.”
More
News
|