Pniel Villagers klop Goodwood
2006-04-12
IN ’n klipharde wedstryd het Pniel Villagers Saterdag in sy Superliga A wedstryd op Goodwood daarin geslaag om die tuisspan met 29-28 te klop.
Die uitslag weerspieël die taai stryd waarin geen genade gegee of gevra is nie.
Dit was ’n aanskoulike wedstryd waarin albei spanne vier drieë gedruk het vir ’n bonuspunt.
Villagers het rustyd 22-21 voorgeloop.
Goodwood het egter in die tweede helfte met ’n sterk wind in hulle blaaie gespeel en vroeg die voortou geneem met ’n verdoelde drie.
Met slegs vyf minute speeltyd oor het die Pniel-manne met ’n verbete aanslag gekom en ’n vaskop vyf treë van die tuisspan se doellyn gewen waarna Eugene Francis (skrumskakel) langs die pale oor is vir die wendrie wat deur Stefanus Cedras verdoel is.
Die besoekers het aansienlik verbeter op die vorige Saterdag se vertoning en heelwat minder straf- en vryskoppe afgestaan.
Daar was ook ’n geweldige verbetering in hulle lynstaanwerk, met die meeste balle wat skoon gewen is.
Benewens Francis se slim spel, het die kaptein, Garland Alberts, ook ’n barshou vir Pniel gespeel. Die hele span verdien egter lof vir die sege.
Die wenspan se drieë is deur Godfrey Nicholls, Terry Terblanche, Jonathan Daniels en Francis gedruk, met Cedras wat drie doelskoppe en een strafdoel behaal het.
More
News
|