Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Grote goggagril

Grote goggagril
 
2006-04-20

Malané Bosman

GRILLERIGE wit larwes in ’n buitewasbak in Paarl-Oos het die buurt Dinsdag op hol gehad oor “vuil kraanwater”.

“Ons het op die televisie gesien hoe lyk die goed in die Kaap se water, en nou het ons ook sulke ‘rat-tail maggots’,” het ’n inwoner van Jan Groentjiestraat 262, Amstelhof haar oplettendheid verduidelik.
Audrey Abrahams het die oggend ’n klein wit larwetjie op die vloer van haar buitetoilet opgelet. Sy het dit summier in die bak afgespoel.
Minute later het haar dogter Chandré, wriemelende wurms in die buitewasbak gesien.

“Ek het die kraan oopgedraai om dit by die pyp af te spoel, en toe val daar nog van die goed saam met die water uit,” het Chandré gesê.

Gedagtig aan die vonds van dié brommerlarwes en die ophef oor sogenaamde ondrinkbare water in Kaapstad, het die Abrahams-gesin ’n paar van die wit wurmpies in ’n flessie met kraanwater geskep.

“Hulle sterte het voor ons oë langer geword en hulle het uitgeswel tot vier keer hul grote,” het Chandré gegril.

Die munisipale waterafdeling is in kennis gestel en inspekteurs was binne minute voor die hek.

’n Watermonster is geneem, en toe is die hoof waterkraan toegedraai.
Die munisipale wateraansluiting is nagegaan tot by ’n konneksie na die Abrahams- woning - skaars ’n meter van die buitewasbak waarin die larwes ontdek is.

’n Siffie in die metaalaansluiting is nagegaan. Dit was behalwe vir ’n kalkerige afsetting, silwerskoon.

Daarna is die koperkraan bokant die wasbak afgeskroewe en indringend bekyk.

Voor in die tuit was daar twee klipharde brommereiers en ’n duidelike wit merk waar ander eiers tot enkele ure tevore vasgeklou het.

Die eiers het die oggend uitgebroei en as larwes in die wasbak geval. Binne twee, drie dae sou hulle in brommers verander het.

“Hierdie brommers lê graag hul eiers in klam plekke, ook kraantuite,” het ’n inspekteur gesê.

“Dit gaan oor higiëne en die netheid van die huis en erf.”

Inwoners van die buurt het dadelik hul eie waterkrane gaan oopdraai, almal sonder die teenwoordigheid van larwes.

Toe het hulle saamgekoek om die munisipale werkers gade te slaan, en het met gemengde gevoelens op die uitslag van die watertoetsings gewag.

“As dit dan vuil is, dan drink ons maar net nie meer water nie, dis al,” het ’n buurman laat hoor.

“Dan drink ons brandewyn.”

* Maggots in a washbasin in Paarl East caused a major upset, until municipal inspectors found bad hygiene and not dirty drinkwater, to be the cause of the wriggly white worms.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za