Twee dood, 30 in padongeluk beseer
2006-04-20
Lise Beyers
‘n OORLAAIDE voertuig, asook spoed, het waarskynlik daartoe gelei dat twee mense hul lewens verloor het en 30 mense met beserings gelaat is 'n gru-ongeluk in Daljosafat verlede Donderdagaand.
Die ongeluk het plaasgevind toe 'n een-ton bakkie met 32 konstruksiewerkers op pad vanaf Amstelhof naby Fairyland gerol het.
Die Tata Turbo voertuig was op die Swaelstertpad op pad na Fairyland en Mbekweni, en het na bewering die T-aansluiting met die Bo-Dalpad te vinnig genader en met die draaislag die pad verlaat.
Een van die beseerdes wat in ‘n ernstige toestand in die Paarl Hospitaal opgeneem is, Sibolelo Mazake (21), het vertel hoe die bakkie om 18:30 teen ‘n hoë spoed op die Swaelstertpad gery het.
“Ons was op pad huis toe en die bestuurder was seker ‘n bietjie haastig. By die T-aansluiting het hy nie by die stopstraat gestop nie, en toe die bakkie regs swaai, het ek gevoel hoe lig die wiele op en die volgende oomblik het die voertuig gerol.
“Toe ons tot stilstand gekom het, het mense oral gelê. Ek het kopbeserings opgedoen en my hand gebreek.”
Zamikhaya Simakade (20) van Fairyland en Patrick Mandatyeni (28) is op slag dood.
Ambulanse vanaf Stellenbosch moes die plaaslike nooddienste bystaan om die 30 beseerdes na die Paarl en Malmesbury hospitale te bring.
Ses mense is in die Paarl Hospitaal opgeneem, terwyl twee ander pasiënte in ‘n ernstige toestand na Tygerberg Hospitaal oorgeplaas is.
Die ander beseerdes is vir ligte beserings behandel en dieselfde aand al ontslaan.
‘n Ooggetuie, Muriel Spogter, wie se huis reg langs die ongelukstoneel is, het gesê dat dit die derde ongeluk is wat by dié T-aansluiting plaasvind sedert die begin van die maand.
Sy sê ‘n motor het onlangs deur haar heining geploeg en groot skade aangerig.
“‘n Week later het ‘n taxi by my buurvrou se erf ingejaag, en as dit nie was vir ‘n hoop boublokke wat in die erf staan nie, sou die taxi in haar huis beland het,” het Muriel gesê.
Volgens Muriel is spoed die hoofoorsaak van die ongelukke op dié plek.
“Die Swaelstertpad is reguit voor dit by die T-aansluiting kom, en die stop-teken word duidelik aangedui.
“Die voertuie jaag teen ‘n geweldige spoed op hierdie pad, en dan misgis hulle hulself. Ons vrees vir ons kinders se lewens weens hierdie roekelose bestuurders.”
‘n Woordvoerder van die verkeersafdeling het gesê dat die hoë getal ongelukke op die pad baie kommerwekkend is.
Hy het bygevoeg dat sy afdeling die nodige dokumentasie oor ongelukke in die gebied aangevra het, waarna hulle ‘n versoek sal rig na die provinsiale padingenieur om dreunstroke voor die T-aansluiting aan te bring, wat motoriste vroegtydig sal waarsku om stadiger te ry.
Oor die kwessie van oorlading, het hy gesê dat die verkeersowerhede nie genoeg personeel tot hul beskikking het om al die paaie te beman nie.
“Verskeie bestuurders weet dat hulle oorlaai is en dan neem hulle agterpaaie wat nie vir ons altyd moontlik is om te polisieer nie.”
Die bestuurder van die bakkie, JT Poonyane van Kopa Konstruksie, is lig beseer en ‘n klag van strafbare manslag word teen hom ondersoek.
* Two men died while 30 were injured when a bakkie rolled in Dal Josaphat.
More
News
|