Hokprojek van DBV kom op dreef
2006-04-26
‘n INISIATIEF deur diereliefhebbers van Wellington om die fasiliteite by die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) op te gradeer, is stadig maar seker besig om momentum te kry.
Onder leiding van DBV-lid Christine van Wyk, is begin om geld in te samel vir die verbetering en opknap van die bestaande tien hokke, wat wat jare laas aandag geniet het.
“Daar was eenvoudig nog nooit die fondse daarvoor nie.”
Daar word beplan om twee van die groter hokke te verdeel om altesaam twaalf hokke op die perseel beskikbaar te hê waar verwaarloosde of verdwaalde diere versorg kan word.
“Die oorspronklike ontwerp van die hokke was nie so goed nie, en daarom het dit verlede jaar, toe ons so ‘n tipiese Kaapse winter gehad het, twee keer gebeur dat hulle oorstroom het,” vertel Christine.
Die plan is om al die sementvloere weer te lê, dié keer met ‘n helling na die kante toe sodat water makliker kan wegvloei. Daarby wil hulle ook al die draadwerk vervang, en die mure tussen die aangrensende hokke vergroot om te keer dat die honde met mekaar baklei.
Afsonderlike houthokke op staanders gaan ook in die kathokke ingerig word sodat die katte apart aangehou kan word. Dit kan help om die verspreiding van siektes te bekamp.
Daar word beraam dat die opgradering van elke hok tot R10 000 sal kos. Volgens Christine sal die name van maatskappye of private persone wat elk ‘n R10 000 skenking maak, op ‘n hok aangebring word uit erkenning.
Sover is sulke donasies reeds deur die Wellington Gholfklub, F&C Makelaars Boland en Debbie en Herman Basson gemaak, waaroor Christine baie dankbaar is.
“Dit beteken ons kan nou ten minste begin werk aan die kathokke en twee van die ander hokke.”
“Ons besef egter dat alle dierliefhebbers nie altyd so ‘n groot donasie kan maak nie, maar tog ‘n bydrae wil lewer.”
Daarom is ‘n register vir boumateriaal - van draad, hout, spykers tot sement en sand - by Wynland Bouhandelaars op Wellington, waar belangstellendes enigiets van ‘n sakkie sand tot ‘n rol draad namens die hok-projek kan betaal. Die lys van benodigdhede is ter insae by dié onderneming in Bainstraat beskikbaar.
“Ons vra net dat mense wat ons op hierdie wyse wil ondersteun, hul name in die meegaande boek sal opteken, sodat ons hulle ook vir hul bydrae kan bedank,” vra Christine.
Belangstellendes kan Christine kontak by 864-1790 of 083-324-3166.
* The Wellington SPCA has started improving the cages at its premises, thanks to donations from the public.
More
News
|