Stakers maak amok
2006-04-26
Lise Beyers
’n JONG Paarliet was een van die slagoffers van die landwye staking deur sekuriteitsbeamptes wat die Drakenstein-gebied verlede week getref het.
Anthony Pretorius was Woensdagoggend omstreeks 05:00 onderweg na Huguenotstasie toe hy deur ’n groep van sowat 20 mans vasgekeer is.
“Ek het my werksklere aangehad, en die mans het in die donker oënskynlik gedink dat ek ’n sekuriteitswag is,” het ’n pimpel-en-pers geslaande Anthony gesê.
“Die mans het my saamgesleep na die stasie en in ’n trein ingegooi en ons is almal daar weg. Niemand het by die stasie vir kaartjies gevra nie, en ek het gevrees vir my lewe.
“By Muldersvlei is ons van die trein af en daar was ’n paar honderd mense wat vermoedelik almal stakende sekuriteitsbeamptes was.
“Treine uit ander rigtings het aangekom en die skare het al hoe groter geword. Intussen is daar nog vyf mans aangebring wat gevange gehou is.
“Daar is aan ons gesê dat ons saam moet gaan na Kaapstad vir ’n optog, en hoe meer ek verduidelik het dat ek nie ’n sekuriteitsbeampte is nie, hoe meer is ek geïgnoreer.
“Die skare het skielik op die ses van ons toegesak en vir ons begin skop en slaan met ysterpype en sambokke.”
Anthony wys sy kneus- en stukkende plekke en vertel hoe gelukkig hy is om te lewe.
“Daarna is ons weer op ’n trein gegooi, maar gelukkig het die stakers nie op die trein geklim nie. “Ons was vol bloed, maar niemand het vir ons hulp aangebied nie.
“Tussen Muldersvlei en Kraaifontein was daar ook nooit ’n kondukteur wat omgekom het nie.”
Die beseerde mans het almal in Kraaifontein afgeklim, en Anthony het vir hulle gevolg na die Kraaifontein daghospitaal, waar hulle vir hul wonde behandel en die polisie ontbied is.
Anthony moes verskeie steke in sy hand en kop kry, en sy lyf is vol kneusplekke.
Die staking van die sekuriteitsbeamptes handel oor ’n verhoging van 11% wat deur die vakbond geëis word.
Die dag ná Anthony se aanval, het verskeie groepe stakers die strate van die Paarl en Wellington ingevaar en amok gemaak.
Hulle het winkels binnegegaan en werkende sekuriteitsbeamptes uitgeruk en aangerand.
Winkels moes hul deure sluit totdat die polisie die skare uit die middedorp kon dryf.
Van die informele smouse se stalletjies is geplunder en rommel is in die strate gestrooi.
Chantal Abrahams, bestuurder van Truworths, het gesê dat hul sekuriteitswag agter in die winkel moes wegkruip.
“Ons was vreesbevange, want die skare het die winkel probeer bestorm. Gelukkig het ons vroegtydig die deure gesluit en eers weer oopgemaak toe die dorp stil geword het.”
Op Wellington het ’n groep laatmiddag Shoprite binnegestorm en pakke vleis uitgegooi. Die bestuur het hulle met die hulp van die polisie verdryf en hul deure is gesluit.
Die hulp van die honde-eenheid is ingeroep om te help om die skare, wat gewapen was met knuppels en kieries, uiteen te dryf.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat geen toestemming gevra is om die optogte te hou nie, maar die polisie het probeer om die optog vreedsaam te beeindig en die skare oortuig om by die Daljosafatstasie uiteen te gaan.
“Hoewel daar stakers was wat ’n vreedsame optog wou hou, is daar altyd kriminele elemente wat inkruip en mense intimideer.”
'n Groep stakers het Maandagmiddag ’n opmars na die Paarl-Oos polisiestasie gehou, en op die vrylating van vier mans aangedring wat in hegtenis geneem is nadat hulle ’n werkende sekuriteitswag ernstig aangerand het.
Die skare het vreedsaam uitmekaar gegaan, nadat die mans op borg vrygelaat is.
* Striking security guards ran amuck in Paarl and Wellington last week.
More
News
|