Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skolerugby begin in erns; uitslae lyk belowend

Skolerugby begin in erns; uitslae lyk belowend
 
2006-04-26


DIE o.19A-span van Paulus Joubert Sekondêr het die seisoen op ’n drafstap begin deur vir Klein Nederburg met 17-8 te klop.

Die wedstryd wat op Daljosafat Stadion gespeel is, is gekenmerk deur klipharde verdediging deur albei spanne.

KN het vroeg in die wedstryd eerste punte aangeteken toe hul senter, Ervin Williams, met ’n strafdoel geslaag het.

Ná rustyd het Paulus skielik vlam gevat en beheer oor die wedstryd gekry. Paulus het veral in die vaste fasette oorheers, met Elrick Erasmus en Annaud Meyer wat die oog gevang het.

Paulus se eerste punte was danksy ’n drie deur Bazil Maart.
Die skrumskakel het om die steelkant van ’n skrum gebreek, die verdediging geflous en sowat 50m ver genael om onder die pale te druk.

Bradwell Swartz (losskakel) was suksesvol met die doelskop en kort daarna ook ’n strafdoel.

’n Verdere drie deur Chandler Fisher (senter) het PJ se voorsprong vergroot, met Swartz wat weer in die kol was met die doelskop.

Kort voor die eindfluitjie druk KN se vleuel, Justin van Schoor, ’n troosdrie.

Paulus se o.19B-span het 12-10 gewen, terwyl KN se o.16A, o.15A en o.14A spanne onderskeidelik 18-3, 20-0 en 45-0 gewen het.

* Die Hoër Landbouskool Boland het Saterdag in sy eerste o.19 WP-ligakragmeting van die seisoen vir SACS 8-0 geklop.

Albei spanne het met mening verdedig, met slegs ’n drie deur haker CG Stouman en ’n strafdoel deur Pieter Esterhuyse (senter) wat die verskil maak.

Boland Landbou het in sy onlangse Europese toer gemengde sukses behaal.

Die eerste wedstryd teen Cardiff Blues se o.18-span is weens swaar reën afgelas.

Die Paarliete het in die tweede wedstryd teen Bath Rugby Academy se o.19-span 21-8 verloor, maar hul toer op ’n hoë noot afgesluit toe hulle vir Northampton Old Scouts 22-3 geklop het.

Boland-Landbou het oor Paasnaweek tydens die St Stithians Rugbyfees vir St Stithians (40-6) en Durban High School (26-6) geklop, maar in hul eerste wedstryd teen Glenwood 29-10 vasgeval.

* Die eerste span van Hoër Jongenskool Paarl het tydens die St John’s Toernooi teen Waterkloof (31-16) en Daniël Pienaar (15-5) vasgeval, maar vir Parktown 22-6 geklop.

Saterdag het HJS in die doodsnikke hul wedstryd in die Paarl verloor toe Biskoppe in die laaste minute gaan druk het om 13-12 te wen.
HJS se losskakel Matthew Swart het met vier strafdoele geslaag.

* Paarl Gimnasium se eerste span het die St Stithians toernooi onoorwonne afgesluit nadat hy vir Glenwood (17-14) en Kearsney (39-18) geklop het en 17-17 gelykop gespeel het teen Affies.

Gimnasium het Saterdag vir Wynberg oortuigend met 45-5 geklop.
Gim het sewe drieë ingeryg danksy Fernie Kitshoff, Jacques Meyer, Emile van Wyk, André Kemp, Vermeulen Rossouw, Daneel Slabber en Jean Rossouw. Die skrumskakel, Dewald Duvenage, was in die kol met vyf doelskoppe.

* Die FNB Uitnodigingspan wat uit spelers van Klein Nederburg Sekondêr en New Orleans Sekondêr bestaan, het ook die St John’s Toernooi in Johannesburg onoorwonne afgesluit.

Die Paarl-span het rugbygeesdriftiges laat regop sit toe hulle die gasheerspan in hul eerste wedstryd 15-13 geklop het.

Die tuisspan het die besit en gebiedsvoordeel geniet, maar is daarvan weerhou om punte aan te teken deur die Paarliete se hardnekkige verdediging.

Wayden van Rooyen, Damion Donson en Dudlee Jonathan het die FNB-span se drieë gedruk.

Die Paarliete was ook te sterk vir St John’s (Harare) en Parktown en het 20-19 en 26-10 met dié spanne afgereken.

Dié span se goeie vertoning besorg hulle tans van ’n 18de plek op SuperSport se skolerugby-ranglys.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za