Jong atlete leer druk ken
2006-04-26
TWEE Paarlse atlete is deel van die Suid-Afrikaanse span wat in Mei in Madagaskar aan die Suidelike State Jeugatletiekkampioenskap gaan deelneem.
Liné Barnard van die Hoër Meisieskool Paarl sal haar land in die gewigstoot vir meisies 17 jaar verteenwoordig, terwyl Jo-Ann Williams van Charleston Hill Sekondêr sal hoop om ’n medalje te verower in die 3000m stap vir meisie 17 jaar.
Die 14 mees suidelike lande van Afrika - Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, Reunion, Seychelles, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe - sal op 13 en 14 Mei aan dié byeenkoms deelneem wat slegs vir 17-jariges is.
Die byeenkoms is een van ’n reeks byeenkomste wat deur Atletiek Suid-Afrika gebruik word om atlete op vroeë ouderdom te onderwerp aan die druk van internasionale deelname.
“Daar word gehoop dat die atlete oor die volgende ses jaar stelselmatig met internasionale kompetisie volwassenheid sal bereik sodat hulle tydens die 2012 Olimpiese Spele Suid-Afrika met trots kan verteenwoordig,” verduidelik Richard Stander, hoof uitvoerende beampte van Boland Atletiek.
Die SA-span bestaan uit 39 atlete, wat vyf Bolanders insluit. Die ander Boland-atlete wat gekies is, is Wilhelm van der Vyver (100m en 200m s.17) van Stellenbosch, Cornel Fredericks (400mH s.17) en Victor Hogan (dg s.17) albei van Caledon.
Al vyf Boland-atlete het tydens die onlangse SA Jeugkampioenskap goue medaljes verower.
Intussen het ASA ook aangekondig dat hy ’n junior SA-span (bestaande uit 19-jariges) na die Zone VI Junior Spele gaan stuur wat einde Junie in Namibië sal plaasvind.
Atlete van bogenoemde 14 lande sal ook aan dié byeenkoms deelneem.
ASA stuur ook vanjaar ’n junior span na die IAAF Wêreld Kampioenskap in Beijing, China.
Albei dié spanne sal volgende week deur ASA bekend gemaak word.
More
News
|