Paarl nog onoorwonne
2006-04-26
ALDRIE spanne van Paarl Rugbyklub het Saterdag sukses behaal in hul wedstryde teen Scottsdene.
Die eerste span kon aanvanklik nie aan die gang kom in die gure weersomstandighede nie. Die nat weer het die balhantering bemoeilik en die voorspelers het eers mettertyd by die omstandighede aangepas om so die wedstryd 17-11 te wen.
Die Paarl-pak het die vaste skrums totaal oorheers.
Marco Martin en Jaco du Plessis het drieë gedruk, terwyl Jacques Hendriks suksesvol was met beide doelskoppe en ‘n strafdoel.
Die kaptein en haker, Riaan Ehlers, en Martin (heelagter) het die speler van die wedstryd toekenning gedeel. Paarl is steeds onoorwonne ná drie liga-wedstryde.
Paarl II en III het ook 10-6 en 19-0 gewen, terwyl die o.21 span vir Hands and Hearts 14-12 geklop het. Saterdag speel Paarl op die Faurestraat Stadion teen Young Peoples.
* Vineyards Rugbyklub se eerste span was Saterdag sy grootse vyand in die wedstryd teen Bluedowns/Weermag.
Hoewel Vineyards die wedstryd 27-5 gewen het, kon hulle nie ‘n bonuspunt inpalm nie.
Die Paarliete het die vaste fasette oorheers en vyf vaskoppe in die skrums behaal. Thaamir Moerat (slot) het 17 uit 17 balle gewen op Vineyards se eie ingooi in die lynstane, en ook daarin geslaag om drie van die teenstanders se ingooie te steel.
Vineyards het al 27 van hul punte in die eerste helfte aangeteken, met Makkie Heyns (haker), Wasfi Nackerdien (flank) en Abbas Hendricks (flank) wat drieë druk.
Die debutant losskakel, Anton Snyman, het met aldrie doelskoppe geslaag en ook twee strafdoele van die halflyn oorgeklits.
Harde reën in die tweede helfte het Vineyards se hardlooprugby-styl in die wiele gery.
Mathew de Beer (agsteman) en Zarier Nackerdien (slot) het die speler van die wedstryd toekenning gedeel.
Vineyards II en III het hul wedstryde 18-0 en 7-3 gewen. Vineyards speel Saterdag weg teen Strand Pioneers.
* Die eerste span van Paarl Rangers het Saterdag vir Temperance in ‘n WP Divisie 3 wedstryd 12-8 geklop.
Die wedstryd is in gietende reën gespeel en die Paarliete kon geen drieë aanteken nie. William Kock was suksesvol met vier strafdoele.
Saterdag speel Rangers teen Korrektiewe Dienste op Pollsmoore. Die bus vertrek om 11:00 vanaf Groenheuwel.
* Young Gardens Rugbyklub het Saterdag op Groenpunt vir Young Stars met 25-5 geklop.
Ashley Jacobs (2), Christopher Fortuin, Ainsley Anderson (speler van die wedstryd) en Tino Prince het die Paarliete se drieë gedruk.
Gardens se tweede en derde spanne het 62-5 en 22-19 gewen.
More
News
|