Oor berge en dale
2006-04-26
’n NUWE ontwikkeling suid van Berg-en-Dal op Wellington word beplan deur die voornemende eienaars van die aangrensende grond aan die Leeuwrivierspruit - dié grond waar ’n stokkie verlede jaar voor ontwikkeling gesteek is.
Dit val nou op die skouers van Peter Ingwersen en Chris Oosthuizen, eienaars van die grond aan die rivier, om die gebied te rehabiliteer soos dit was voordat grondverskuiwings deur ontwikkellaar Henk Smith gedoen is.
Besware deur inwoners het destyds beamptes van die Drakenstein Munisipaliteit en die Departement Waterwese en Omgewingsake na die perseel laat haas.
Dit was die einde van planne om huise in die laagliggende deel langs die Leeuwrivierspruit te bou.
“Dit is jammer dat die ontwikkeling nie voortgaan nie, maar dit blyk dat die kar destyds voor die perde gespan is en die nodige toestemming nie gekry is voordat die koper met die grondverskuiwing begin het nie,” het Ingwersen gesê.
Die oordrag van die grond is toe nooit geneem nie, en Smith, ontwikkelaar van Kaapstad, het onttrek.
“Die spruit wat oopgestoot is, is eintlik ’n bedekte seën omdat daar destyds met die pad na Berg-en-Dal gefouteer is en die bruggie nie sterk water kan hanteer nie.”
’n Breë pad wat verlede maand suid van die AP kerk aan Berg-en-Dalstraat gestoot is, het inwoners opnuut laat vrae vra.
“Daar is niks om oor bekommerd te wees nie,” het Ingwersen verduidelik.
’n Grondeienaar wat ’n tydelike servituut van Smithstraat na sy woning gehad het van die munisipaliteit, moes ’n eie ingang na sy erf kry.
Dit is wat nou gedoen is.
Dit is ook die toegang na die nuwe uitbreiding, ’n sekuriteitslandgoed met sowat 43 eenhede, wat die voornemende kopers beplan.
Toestemming is ook aangevra by die Munisipale Burgemeesterskomitee vir ’n tweede fase van 50 erwe met toegang uit Genl Hertzoglaan in Berg-en-Dal.
“Ons wag vir die nodige toestemming en dan sal ons die grond verkoop.
"Maar daar sal nie laekoste-behuising gebou word nie. Ons is trots op ons dorp en sal so iets nie toelaat nie.”
* A new housing development is being planned south of Berg-en-Dal on the slopes of Bain’s Kloof.
More
News
|