Infrastruktuur gaan verbeter
2006-04-26
DIE Wellingtonse rioolwerke en watertoevoer gaan opgegradeer word, het die nuwe burgemeester van Drakenstein, Charmaine Manuel, onlangs aan lede van die Wellington Sakekamer gesê tydens 'n byeenkoms te Provence.
“Daar word begroot om die rioolkapasiteit op te gradeer en die watergehalte te verbeter om uitbreidings en ontwikkeling in Wellington te akkommodeer.
“Die projek van R18 miljoen dek onder meer die konstruksie van ’n riool-pomplyn wat riool vanaf Wellington wegvoer vir behandeling by Paarl rioolwerke. ’n Bedrag van meer as R5 miljoen is goedgekeur vir die voortsetting van dié projek in 2006/2007.”
Volgens Manuel gee die ingenieursafdeling aandag aan die probleme van Ranzadale en Uitsig wat watervoorsiening betref. ’n Nuwe wateropgaardam word beoog om beter waterdruk te verseker.
Hierdie projek strek oor drie jaar, met ’n begroting van R1,6 miljoen in hierdie boekjaar.
“Verdere uitbreiding van basiese water en rioleringdienste na die Oliver Tambo-gebied, wat die voorsiening van toilet-eenhede en waterkrane behels, is ’n voortsetting van die raad se program vir die voorsiening van basiese dienste aan die inwoners van Drakenstein. Die begroting hiervoor beloop ’n half miljoen rand gedurende 2006/2007.”
Paaie- en stormwaterdienste in die Wellington Industriële Park gaan verbeter word teen ’n koste van R1,1 miljoen. Dit sluit ook die gefaseerde verbetering in van Randstraat ten opsigte van rand- stene en teerwerk, teen ’n begroting van R200 000.
Die skep van addisionele kapasiteit by die vul- lis-stortingsterrein, insluitend die rehabilitering van die ou terrein, strek ook oor verskeie jare en die bedrag begroot vir 2006/2007 beloop ook ’n half miljoen rand.
“Behuising is ’n prioriteit, maar dit sal seker altyd ’n turksvy bly, aangesien munisipale befondsing vanaf die provinsiale regering ontvang word en beperk is.
“Oor die volgende vyf jaar beoog Drakenstein om ten minste R16 miljoen per jaar te bestee aan 667 huise vir mense in die lae-inkomste groep (onder R3500 per maand inkomste).
Terselfdertyd sal die munisipaliteit betrokke wees by die bou van 364 huise vir mense in die middel-inkomste groep (R3500 tot R7500 per maand).
Projekte wat beoog word op Wellington sluit in 96 laekoste-eenhede in Wyk 11 naby die Newton sportterrein, 135 eenhede in Buitekantstraat, en 436 huise in Pentzstraat (Wyk 18), waarvoor byna R14 miljoen se subsidies reeds ontvang is.
In Wyk 5 sal 22 eenhede vir die middelinkomste groep opgerig word langs die spoorlyn. Nog 15 huise vir hierdie inkomstegroep kom naby die Newton sportterrein, asook 38 eenhede in Buitekantstraat (Wyk 11).
In Pentzstraat sal daar ook 189 eenhede vir die middelinkomste groep gebou word, asook nog 100 huise in Lombaardstraat.
“Die raad is van voorneme om samesprekings te hou met verskeie staatsdepartemente, aan wie sekere gedeeltes van die grond nog behoort."
More
News
|