Huldigingskonsert in Goodnow-saal
2006-04-26
DIE Wellingtonse Musiekvereniging bied op Sondag 7 Mei om 17:00 ’n huldigingskonsert aan om mense wat die afgelope twee of drie jaar ’n noue verbintenis met musiek in die vallei gehad het, en sedertdien oorlede is, te eer.
Die konsert neem die vorm aan van ’n Soireé met André Serfontein (tenoor), Piet de Beer (viool) en Bennie van Eeden (klavier) wat gewilde musiek uit ’n wye musiekspektrum voordra.
Van die musici wat by die geleentheid erken word, sluit in die internasionale tenoor, Deon van der Walt, Tommie van Wyk (bekende dosent aan veral die WOK), Andrew Strauss (wat ook op WOK studeer het en sy eie musiekskool, La Musique in die Paarl gehad het) en ander soos Huberte Rupert, wat een van die hoofborge van die Nasionale Hennie Joubert Klavierkonsert was.
Die konsert sal ongeveer ’n uur duur.
Toegang is R50 (R30 vir kinders en gratis vir studente van die CPUT). Geniet ’n glasie wyn ná die tyd. Vir meer besonderhede, skakel Dalene by 873-1278.
More
News
|