Wat gaan vir WAT?
2006-05-04
DAAR is nog twee weke oor om deel te neem aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se landwye SMS-kompetisie wat om 12:00 op Vrydag 19 Mei sluit.
Vir slegs R5 per SMS kan aantreklike weeklikse pryse gewen word soos digitale kameras, selfone, laserdrukkers, mikrogolfoonde en duursame kookgerei.
Deelnemers kwalifiseer outomaties vir die trekking vir die eerste prys van R25 000 op 19 Mei.
In 6 en 7 Mei se uitgawes van Die Burger en Rapport verskyn die voorlaaste kompetisievraag wat gebaseer is op Oubaas van 7de Laan se verdraaide Afrikaanse uitdrukkings.
Deelname is maklik. Vervang die verkeerde woord in Oubaas se sêding en SMS slegs die regte woord na die kompetisienommer. Die laaste kompetisievraag verskyn volgende naweek.
Die SMS-kompetisie is ten bate van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en vorm deel van ’n fondswerwingsaksie om saam te val met WAT se 80ste bestaansjaar in 2006.
Deelnemers staan nie alleen die kans om groot pryse te wen nie, maar dit is ook ’n geleentheid vir liefhebbers van Afrikaans om ’n daadwerklike bydrae tot die oorlewing van Afrikaans te maak.
Die Woordeboek moet tans self fondse genereer omdat sy staatsubsidie drasties besnoei is.
Die Woordeboek neem Afrikaans op omvattende wyse op en dokumenteer die taal in al sy verskyningsvorme wat standaardtaal, asook die ander variëteite van Afrikaans soos Kaaps en Namakwalands insluit.
Deel XII van die Woordeboek (P en Q) is pas gepubliseer en die doel is om die Woordeboek so vinnig moontlik te voltooi.
Behalwe die vergunning aan die Woordeboek om Oubaas se sêgoed te gebruik, verleen 7de Laan verdere ondersteuning deur die Woordeboek op te neem in die storielyn wat oor vier episodes strek.
Kykers kan uitsien na interessante gebeure rondom die Woordeboek in episodes wat van 5 tot 10 Mei gebeeldsend word. Episode 1173 op 10 Mei word spesiaal aan die Woordeboek gewy.
Vir meer inligting, skakel die Hoofredakteur by 887-3113 of besoek die webwerf www.wat.co.za
More
News
|