Nag van angs
2006-05-04
DIE stormsterkwind wat die Boland sedert Sondag teister, het gesorg vir angsvolle ure in Lanquedoc by Pniel.
Die inwoners, wat reeds geruime tyd kla oor die toestand van die nuwe projekhuise, het in die vroeë oggendure van Sondag wakker geskrik van dakke wat oplig en stukke pleister wat uit die mure geruk word.
Maria Mjandana vertel sy het net voor 04:00 wakker geword van die geraas.
Haar kamer is op die grondvloer, met ’n dakkamer bo-op. Toe sy sien hoe die dak in die voorkamer lig, is sy die trap op om haar twee kinders wakker te maak.
“Ek het hulle afgebring en gesê hulle moet in my kamer gaan lê,” vertel sy.
Mjandana was te onrustig om verder te slaap en het uitgegaan om van buite te kyk of sy iets kan sien.
“Ek het gesien van die buurmense sit buite en ek het na hulle toe gestap.”
Sy het net oor die straat gestap toe die wind haar dak skep en so vyftig meter verder in die straat gegooi het.
Die polisie het later die rommel voor haar kamerdeur verwyder en die kinders uitgehaal onder die bakstene en pleister.
Minstens sewe ander huise se dakke het ook begin lig in die wind en moes ontruim word.
“Ek het nie geweet wat gaan aan nie,” het die 70-jarige Hendrik Jantjies. “Ek het van halfvyf af in my motor gaan sit en wag dat dit lig word.”
Lilian Bruintjies, ’n gemeenskapsleier, sê hulle kla al maande oor die toestand van die huise.
Die Stellenbosse Munisipaliteit het intussen ’n saal tot die beskikking van 31 van die inwoners gestel, waar hulle noodleniging ontvang.
Die Lanquedoc ontwikkeling is opgerig vir werkers en oudwerkers van Anglo American Plase. Die proses om die eiendomme aan die inwoners oor te dra, is nog aan die gang.
More
News
|