Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Stormwind ruk vallei

Stormwind ruk vallei
 
2006-05-04


STORMSTERK winde het die afgelope naweek chaos gesaai in die Drakensteingebied en duisende rande se skade aangerig.

Suidoostewinde wat tot 80km/uur gewaai het, het dakke afgewaai, ruite aan flarde geruk, krag- en telefoondrade afgewaai en talle bome ontwortel.

In Smartietown, Paarl-Oos, is ten minste tien dakke geheel en al afgewaai, en verskeie opslaanhuise is uitmekaar geskeur deur die geweld van die winde.

Een dak het in Berylstraat sowat 20 meter deur die lug getrek voordat dit teen ‘n boom tot stilstand gekom het.

Die brandweer moes talle sandsakke uitdeel om mense te help om hul dakke te beveilig.

‘n Munisipale werker wat Maandag met opruimingswerk gehelp het, Gavin Kulsin, het gesę dat hy in sy veertig jaar in die Paarl nog nooit sulke windskade teëgekom het nie.

“Dit is iets verskrikliks en om elke hoek en draai, veral aan die oostekant van die Paarl, is daar hewige skade wat deur die krag van die natuur aangerig is.

“Dit gaan dae vat om opruimingswerk te voltooi.”

In die Hoofstraat van die Paarl, het deel van ‘n eikeboom voor die Klein Vredenburg gastehuis afgebreek, die kragdrade afgeskeur en in die middel van die straat beland.

Magriet van der Spek van Klein Vredenburg het gesę dat hulle in die vroeë oggendure van Sondag wakker geskrik het weens klapgeluide buite hul slaapkamervenster.

“Toe ons die gordyne ooptrek, sien ons blou vonke uit die stukkende kragdrade spat. Die tak het reeds in die pad gelę.”

“Dank die Vader dat dit in die nag gebeur het en nie in die dag wanneer daar altyd baie verkeer op die pad is nie. Iemand sou sekerlik baie seer gekry het.”

Die Hoofstraat was vir ‘n aantal ure versper terwyl munisipale werkers die boom opgesaag het. Dié deel van die hoofstraat was ook heel Maandag sonder krag.

By Denneburg is talle dennebome ontwortel. Volgens een omstander lyk dit asof ‘n reus daar deurgeloop en die bome uitgepluk het.

‘n Woordvoerder van die Munisipaliteit het gesę dat hulle vanaf vroeg Sondagoggend om die klok gewerk het om omgewaaide bome op te saag en takke te verwyder.
“Ons het tot dusver 50 bome opgesaag, en daar lę nog baie werk voor.

“Dit sal steeds ‘n geruime tydjie neem voordat alles weer normaal is, maar ons vorder so vinnig soos wat ons kan.”

“Die feit dat geen munisipale eikebome ontwortel is nie, is ‘n bewys dat ons snoeiprogram werk.”

Op ‘n plaas in Suider-Paarl, Véndome, het ‘n reusagtige eikeboom van 30 meter omgeval.

Ingrid le Roux van Véndome, het gesę dat hulle weg was vir die naweek, maar die boom het so ‘n harde klapgeluid gemaak toe hy uit die grond uit skeur, dat hulle bure dit gehoor het.

“Gelukkig het die boom weg van die huis geval, anders het dit die plaashuis te pletter geval.

“Hierdie boom is 200 jaar gelede deur ons voorouers geplant, en nou is dit ‘n stukkie geskiedenis wat tot niet is.”

Abraham Jacobs, ‘n munisipale werker, het Dinsdagoggend ernstige brandwonde opgedoen tydens herstelwerk aan kragdrade in
Groenheuwel, toe hy vermoedelik aan ‘n lewendige kragdraad geraak
het.

Ander kragdrade wat afgewaai het, het grasbrande veroorsaak, maar hulle is vinnig deur die brandweer geblus.

By die Rietbok-woonstelle in Chicago, is die dakplate van verskeie woonstelle afgewaai. Die dakke van Hendrik en Hendrika Lewis by A17 en Gert Arnolds van 6A en die bure by A5 is afgewaai.

Boere het ook swaar verliese gely, nie net met bome wat geboue getref het nie, maar ook deur duisende rande se koejawels en suurlemoene wat van bome afgewaai is.

Talle plase het Dinsdagoggend steeds sonder krag- of telefoon verbintenis gesit.

Op Avondale plaas in Klein Drakenstein het ‘n groot denneboom ‘n arbeidershuis getref. Krag is afgesny deur bome wat langs die plaaspad omgewaai is.

Ronwe Laerskool het ook heelwat skade gely toe hul stoorkamer platgewaai het.

Tydens die jaarlikse Safari marathon op Wellington het die wind ook die lewe vir die organiseerders moeilik gemaak.

Die tydelike toilette het omgewaai en van die tente wat reeds opgerig was, het platgewaai.

* Gale force winds caused devastation in the Drakenstein area.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za