Wind waai Albions van hul voete af
2006-05-04
BETER benutting van die wind het Saterdag vir Belhar sukses gebring in hul rugbywedstryd teen Albions op Daljosafat Stadion.
Die tuisspan het eerste bloed geruik toe die vleuel, Newin Dennis, druk.
Belhar antwoord kort hierna met ’n strafdoel.
’n Hoë skop deur Albions plaas Belhar op die agtervoet. Die bal beweeg vinnig deur drie fases voordat Roderick Allies (slot) ’n gaping kry en langs die pale druk.
John Stevens voeg die bykomende twee punte by om die rustydtelling 10-3 te maak.
In die tweede helfte het Belhar die wind meer doeltreffend gebruik om hul in die tuisspan se kwartgebied te bring.
Vanuit die gebiedsvoordeel het hulle by drie geleenthede strafskoppe afgedwing en so Albions 12-10 geklop.
Vir Albions het Denver Adams goed sy man gestaan op stut en hy lyk beslis soos een van die fondse van die seisoen.
Agterlangs was dit Gamaine Poggenpoel op senter wat die oog gevang het en as speler van die wedstryd aangewys is.
Albions II verloor 14-10, terwyl die derde span 22-12 wen.
Albions speel Saterdag weg teen Franschhoek United. Die bus vertrek om 11:30 vanaf Groenheuwel.
More
News
|