Matthysen beste junior ryer in SA
2006-05-04
DIE Paarlse fietsryer, Renièll Matthysen, het sy prestasie van verlede jaar herhaal toe hy verlede naweek as die beste junior ryer aangewys is by die SA Baanfietsrykampioenskap in Durban.
Matthysen (foto) het agt medaljes ingepalm en was die enigste ryer in sy ouderdomsgroep wat aan al ses die individuele en die twee span-items deelgeneem het.
Renièll het goud verower in die 1000m tydtoets, 1000m naelry, 3000m enkelagtervolging, 1500m, uitvalwedren en in die Olimpiese naelry as deel van die WP-span.
Hy het dan ook twee silwermedaljes losgery in die 25 puntewedren en in die 4000m spanagtervolging.
Matthysen, ’n lid van die Paarl Fietsryklub, is ook tydens verlede jaar se SA Kampioenskap as die beste junior ryer aangewys.
Dié leerder van Hoërskool Labori is dan ook gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Junior Wêreldkampioenskap wat van 1 tot 4 Augustus in Gent, België, gehou sal word.
Die Bolandse fietsryspan het ook heelwat medaljes ingeoes tydens dié byeenkoms.
In die o.12 afdeling het Bradwin Daniels (Rhadsport Fietsryklub) goud en silwer verower in die 1500m en 3km onderskeidelik.
Nog ’n Rhadsport-ryer, Clint Hendricks, het brons in die 2000m enkelagtervolging gewen en ook ’n silwermedalje in die 1500m ingepalm.
Hy is dan ook beloon met sy Suid-Afrikaanse fietsrykleure.
Die Boland se o.16 span wat uit Hendricks, Grant Stuurman (Rhadsport), Avery Arendse en Brandon Christians (albei Yorkshire) bestaan, het derde gekom in die spanagtervolgingwedren.
Dié prestasie is vroeër ook deur die o.14 Boland-span behaal. In die afdeling vir o.16 meisies het Natasha Marang (Yorkshire) die 2000m enkelagtervolging gewen.
Magdalene Nicholson het in die afdeling vir junior vroue ’n tweede plek losgery in die 500m tydtoets en ook ’n bronsmedalje verower in die naelry.
Die span van Ashley Daniels, Reginald Benjamin (albei Rhadsport) en Gareth Albertus (Yorkshire) het ook ’n bronsmedalje verower in die span-naelry vir juniors.
Benjamin was ook derde in die uitvalwedren.
In die Elite-afdeling het Verdi Farao (Marcello) brons verower in die uitvalwedren.
Farao en Ivano Siebrits het ’n vyfde plek losgery in die 50km Madison-wedren.
Die Rhadsport-ryer Durwin Benjamin en sy spanmaat van die Oostelike Provinsie, Mario Nell, was tweede in die Madison.
Dié wedren is gewen deur die Paarliet Garth Thomas en sy CVT-spanmaat, Chris Willemse jnr.
Reginald Benjamin is ook in die voorlopige oefengroep vir die Junior Wêreld Fietsrykampioenskap opgeneem.
More
News
|