Boeke nou nader aan lesers
2006-05-11
’n BIBLIOTEEK is voorwaar iets waarsonder ’n gemeenskap nie kan nie, het burgemeester Charmaine Manuel gesê by die opening van die Groenheuwel satelliet-biblioteek.
Die biblioteek in die Paarl is verlede week amptelik geopen, nadat sy deure reeds sowat twee weke oop was.
In hierdie kort tydjie het 617 lesers aangesluit en is 864 boeke uitgeneem.
“Ek kan sien hier is ’n groot honger na boeke, inligting en lees,” het die burgemeester gesê.
“Ek wil nie beloftes maak nie, maar ons is terdeë bewus van die behoefte en sal poog om te kyk na uitbreidings van die diens.”
Die behoefte aan ’n biblioteek is reeds in 2004 op ’n wyksvergadering geopper. Die naaste biblioteke was Mbekweni en Drakenstein.
Die GOP het geld bewillig, toe moes daar net ’n lokaal gesoek word. Arlene Krieling, wat nou aan die hoof van die projek staan, het die gebou opgemerk tydens ’n patrollie van die buurtwag.
Aanvanklik wou die Raad nie goedkeuring gee nie. Een van die redes was dat dit aangrensend aan die begraafplaas is.
Tommie Matthee, hoof van biblioteekdienste en ook waarnemende hoof van korporatiewe sake, het die raad genooi vir ’n ter plaatse ondersoek.
Op die terrein gekom, het hulle die visie van die biblioteekdiens verstaan en gedeel.
“Nou spog ons met die eerste fase van die projek,” het Matthee gesê.
Hulle het reeds twee ander satelliet-biblioteke, Klein Drakenstein en Wagenmakersvallei.
More
News
|