Klassieke konsert help kinders
2006-05-11
DRIE finalejaar-musiekstudente bied Sondag om 18:00 ‘’n Klassieke Skemerkelkie’ in Hoërskool Gimnasium se ouditorium aan, ten bate van Eduhelp, ’n organisasie wat leerders finansieel help.
Die drie is sopraan Johani Louw, pianis Pieter Crathorne en violis Petrus Coetzee.
Johani Louw (sopraan) het begin met klavier- en sanglesse op sesjarige ouderdom. Gedurende haar skoolloopbaan neem sy aan verskeie musiekproduksies deel as solis.
Sy matrikuleer in 2003 aan Hoërskool Vredendal waar sy reeds die Unisa orrel gr 7; klavier gr 8 en sang gr 6 met lof geslaag het.
Sy slaag ook haar gr 7 sangeksamen met lof, is die eerste wenner van die Mimi Coertze sangbeurs en verower verskeie kere die Hilda Hendriks sangbeurs.
Sy is tans ’n finalejaar BMus student onder leiding van Magdalena Oosthuizen.
Pieter Crathorne (klavier) is al in 2001 aangewys as beste algehele pianis vir o.15-jariges by die Stellenbosch Eisteddfod.
In 2002 wen hy die senior afdeling van die Johann Vos-klavierkompetisie en ontvang ook ’n spesiale prys vir die mees belowende deelnemer.
Hy ontvang ook ’n trofee vir beste pianis by die Bellville Akademie se Musiekfees.
In 2003 tree hy saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes op tydens die Kunstekaap Jeugmusiekfees.
Tussen 2003 en 2005 ontvang Pieter talle pryse, en slaag ook sy Unisa gr 8 én Trinity voordraerslisensiaat met lof.
Hy studeer tans klavier onder leiding van Benjamin van Eeden, waar hy dikwels aan studentekonserte en kompetisies deelneem. Hy is ook ’n aktiewe begeleier en kamermusikus en het al verskeie kere op KYKnet se Ouverture verskyn.
Petrus Coetzee (viool) matrikuleer in 2003 aan die Hoërskool Hugenote in Wellington waar hy Musiek as vak neem.
Sy vioolonderrig ontvang hy by Christelle Gava en Eunice Gildenhuys is sy klavieronderwyser.
Op skool begelei hy die skoolkoor en speel in die strykensemble. Hy is ook vier jaar lank lid van die Simfonieorkes van die Frank Petersen Musieksentrum.
In sy matriekjaar verwerf hy UNISA gr 7 (klavier) met lof, asook Royal Schools gr 7 (viool), ook met lof.
In 2003 woon hy die Nasionale Jeugmusiekkursus in Pretoria by, waar hy lid is van die konsertorkes.
Tans neem hy viool by Louis van der Watt en is hy lid van die Universiteit se simfonieorkes.
Hy beoog om volgende jaar sy B.Mus Hons viool aan te pak. Kaartjies vir die Paarl konsert is teen R30 beskikbaar van Marissa, 083-413-0119. * Eduhelp (voorheen Noorder-Paarl Kinderondersteuningsfonds) is ’n nie-winsgewende organisasie wat hul fondse verkry deur donasies van die gemeenskap en projekte wat hulself reël. Die geld word gebruik om hulpbehoewende kinders te help om professionele terapie te ontvang.
More
News
|