HJS wag vir Grey
2006-05-11
DIE o.19A-span van Hoër Jongenskool Paarl het Saterdag vir Wynberg Seunskool 29-6 geklop.
HJS het regdeur die wedstryd gebiedsvoordeel geniet en het die sege deeglik verdien.
HJS het ook vier skitterdrieë gedruk, met Kobus de Kock (vleuel), Louwtjie Uys (losskakel), Armand Lacomme (agsteman) en Jan-Louw Heroldt (senter) wat agter die doellyn gaan kuier het.
Alberto Gava was suksesvol met twee strafdoele, terwyl Uys in die kol was met een strafdoel.
Saterdag sal Brugstraat-veld weer gepak wees wanneer die Boishaaiers teen die manne van Grey Kollege te staan kom.
Die twee skole sal oudergewoonte weer in ’n verskeidenheid sport-arenas meeding, insluitende skaak, bergfietsry, tafeltennis, tennis, sokker, muurbal, hokkie, gholf en rugby.
Die rugbywedstryd tussen die twee eerste spanne skop om 15:30 af, met die eerste wedstryde van die dag wat om 08:30 begin.
Program (slegs eerstespanne): Vrydag - skaak 14:30 (HJS biblioteek), bergfietsry 15:00 (onder Taalmonument), tafeltennis 19:00 (skoolsaal), tennis o.19A 14:00 (koshuis-bane), sokker o.18A 16:30 (Brugstraat E-veld), muurbal 18:00 (Paarl Muurbalklub), hokkie o.19A 18:00 (Stellenbosch Universiteit Astro). Saterdag - o.14A 08:30, o.15A 09:30, o.16A 10:40, o.19A 15:30 (alle wedstryde word op die A-veld gespeel).
More
News
|