Boland Landbou gee Gim loesing
2006-05-11
DIE Gimmies het Saterdag maar swaar gesluk aan die 18-13 nederlaag wat hulle deur Hoër Landbouskool Boland toegedien is.
Dit is die eerste keer in drie seisoene dat Paarl Gim aan die verloorkant is in sy eie agterplaas.
Die wedstryd is in die eerste helfte in ’n ligte reënbui gespeel wat die Landbouers se dryfspel soos ’n handskoen gepas het.
Albei pakke het hard ingeklim voorlangs.
Die Gimmies se agterlyn is egter verhoed om aan te gang te kom, weens die goeie verdedigingslyne van die besoekers.
Landbou het rustyd 11-6 voorgeloop ná ’n drie deur die haker, CG Stoumann, ’n strafdoel deur Pieter Esterhuizen en ’n skepskop deur die losskakel Ockert Erasmus.
Gim se twee strafdoele is deur die skrumskakel Dewald Duvenage oorgeskop.
’n Drie vroeg in die tweede helfte deur die vleuel, Jean du Plessis, het Boland Landbou se voorsprong vergroot. Esterhuizen was in die kol met die doelskop.
Die Gimmies verdien ’n pluimpie vir die manier waarop hulle tot aan die einde bly veg het.
Hulle is beloon vir hul moeite toe die plaasvervanger-flank, Herschel Johnson, gaan druk het. Duvenage se skop was suiwer, maar dit was te min te laat.
* Hugenote se pak voorspelers was te goed vir hul eweknieë van Durbanville en het Saterdag die wedstryd 24-3 gewen.
Hugenote se drieë is gedruk deur Divan Koch (slot), Tiaan Hugo, Arnold Botha (vleuels) en Emile van der Merwe (agsteman). Die senter Henk de Villiers was suksesvol met twee doelskoppe.
More
News
|