'Wind' was toe eintlik 'n baba
2006-05-11
Lise Beyers
WAT aanvanklik gelyk het na ’n onskuldige wind, het verlede Woensdag geblyk ’n babaseuntjie van 2,5 kg te wees.
Die drama het ontvou toe ’n jong vrou, Brenda Cupido, by die eienaar van die Wellington Stasie Kafee gekla het dat sy ’n ‘wind’ het.
Liza Lerm vertel hoe Brenda gesê het dat sy vanaf Merriman in die Karoo onderweg was na haar vriend in Malmesbury.
Sy het in die kafee gestaan en begin kla van ’n bietjie pyn. Liza en haar assistent, Edvandy Channing, was bekommerd oor Brenda, want hulle kon sien dat sy baie ongemaklik gevoel het.
“Ons het vir haar Eno’s gegee in water opgelos, maar dit het nie gelyk asof dit werk nie.
“Edvandy het haar sak binne toe gebring en ons het vir haar ’n stoel nader getrek. Skielik het sy gesê dat die pyn nou so erg is dat ons asseblief ’n ambulans moet bel.”
“Terwyl daar vir die ambulans gewag is, het ons vir haar na my woonstel geneem wat langs die winkel is waar ek haar laat lê het,” sê Liza.
“Skielik was daar orals bloed. Ek het groot geskrik, en toé eers besef dat die vrou gaan geboorte skenk.
“Ek en Edvandy het nie geweet wat om te doen nie. Ons kon al die kop van die baba sien, toe kom red die ambulans-personeel vir ons.”
’n Babaseuntjie het sy verskyning gemaak net soos wat die nooddienste gearriveer het. Hulle het die naelstring gesny en verseker dat Brenda se toestand bevredigend is.
“Sy het kort hierna opgestaan en vir haarself in die badkamer gaan was asof niks gebeur het nie,” het Liza gesê.
“Ons het glad nie besef dat sy swanger was nie, want sy het nie gewys nie en sy het ook niks gesê nie. Ons het later gehoor dat sy eers oor ’n maand haar baba verwag het.”
“Al was ek baie skrikkerig, was dit vir my ’n wonderlike ervaring om te sien hoe ’n nuwe lewe die wêreld binnekom. Dis iets wat ek nooit sal vergeet nie.”
* A woman who thought she had indigestion, was delivered of a baby at Wellington station.
More
News
|