Blitsstorm tref hard in vallei
2005-04-14
Susan Botha
WEERLIG en donderslae het mense Sondagnag laat wakkerskrik en heelparty het skade gely weens stormwinde en die harde reënvlae.
Laatmiddag het ’n reënbui geval en daar was selfs ’n paar donderslae, maar niemand het die nag se storm verwag nie.
Teen 20:00 het die Swart Suidooster die vallei getref, en dit is ook dié wind wat die meeste skade aangerig het.
Die dak van woonstel Y3 in Van der Stelpark, wat bewoon word deur die Van Niekerk-gesin het omstreeks 22:00 Sondagnag afgewaai. Daar is heelwat skade aan die hele gebou se dak aangerig en die munisipaliteit moes ’n seil daaroor trek.
Die Van Niekerks se buurman, Neil van Rooi, het die nag aan hulle herberg voorsien, maar volgens raadslid Bokkie Claassen is reëlings getref vir alternatiewe blyplek.
Die gesin het heelwat skade aan hul meubels opgedoen.
In Fairyland is ses wonings se dakke beskadig.
Verskeie bome het ook deurgeloop. In die Paarlse Arboretum het ’n groot doringboom gesneuwel en op Wellington is twee bome in Uitsig middeldeur gewaai.
In Voorstraat het ’n ou bloekomboom die Bethesda-saaltjie net-net gemis in sy val.
Die omheining voor die saal is plat en afgebreekte takke het op die dak gelê. Die gebou is onlangs gerestoureer.
Sowat 50 mm reën in die Paarl, en 70 mm op Wellington, is gemeet. Dit het tot verskeie motorongelukke aanleiding gegee, waar voertuie op die nat pad gegly het.
Heelwat klagtes van vloedskade is ook by die brandweer en Munisipaliteit aangemeld.
Geen groot verspoe- lings is aangemeld nie. Slegs by enkele huise was dit vir lede van die brandweer nodig om sandsakke te pak.
By die Ross-woning te Klein Drakensteinweg 248 in die Paarl het probleme net voor 23:00 begin.
Die rioolpyp in die binneplaas het oorstroom en vier vertrekke van Solomon Ross was sowat 15cm onder stinkende water.
Solomon woon aan die voorkant van die woning. Sy seun, Joseph, en dié se gesin was op droë grond, aangesien hul vertrekke ’n trap hoër gebou is. Aan die stank kon hulle egter nie ontsnap nie.
Joseph vertel dat hulle van 23:00 tot 01:40 water uit die huis gevee het.
“Ons moes die vensters oopmaak vir die reuk, al was dit bitter koud,” vertel sy vrou, Elaine.
Ook by die Term-huise in Lantanastraat het die water dwarsdeur wonings geloop
Omgekrapte inwoners wat ’n optog na die Munisipaliteit wou hou, is deur raadslede gepaai.
Inwoners sê hulle huise word elke jaar oorstroom en daar word niks aan die probleem gedoen nie. Hulle is ook reeds jarelank op die behuisingswaglys, pure verniet.
Die reën het egter ook ’n positiewe keersy. Landbouers is verheug dat reën uiteindelik geval het en dat die droë land die water kan opsuig.
Geen oesskade is tot dusver aangemeld nie en die koringboere is reg om te ploeg.
Volgens die weerburo kan Bolanders mooiweer verwag vir die volgende paar dae, met temperature wat selfs tot bó 30 grade styg.
Volgens weervoorspellers kan Kapenaars al meer donderstorms verwag, soos die El Nino-verskynsel temperature laat styg.
* Sunday night’s storm uprooted trees and caused considerable rain damage.
More
News
|