Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Studente aangeval

Studente aangeval
 
2006-05-11

Malané Bosman

’n JONG Wellingtonner is Vrydagnag ernstig beseer toe ’n gebreekte boublok deur die voorruit van haar motor gebars het buite Stellenbosch.

Carlien Nortjé (21) en haar vriend, Dawid Botha, was om 01:00 op pad terug na Stellenbosch ná ’n ingenieursfakulteitdans buite die dorp, toe ’n man regoor Khayamandi voor hulle ingespring het.

“Dit het so vinnig gebeur,” het Carlien later onthou.

“Dawid het gesien hoe iemand aangehardloop kom, vassteek en
so asof hy wil boul, iets na ons slinger.”

Die stuk boublok het die enjinkap getref, in die voorruit ingebars en die truspieël losgeruk, wat toe teen Carlien se mond vasgeskiet het.

Haar voortande was los en haar lip is vergruis. Dawid het reguit na die Stellenbosch Medi-Clinic gejaag, waar dokters drie uur lank aan Carlien se gesigbeserings gewerk het.

Carlien is ’n finalejaar maatskaplikewerk-student aan die universiteit.

“Ons het stadiger gery vir die spoedkamera by die ingang na die dorp,” het sy gesê.

“Dit sou erger gewees het as ons vinnig gery het. Ek weet nie hoe Dawid die motor op die pad gehou het nie. Hy moes laag buk om onder die krake in die ruit deur te sien.”

Dit is nie die eerste keer dat motoriste en fietsryers op die verbypad by Khayamandi aangeval word nie.

Onlangs weer is ’n dokter daar van sy oefenfiets afgeruk en aangerand voordat die aanvallers met die fiets in die woonbuurt verdwyn het.

“’n Mens moet versigtig wees op hierdie pad,” het die paartjie hul mede-studente gewaarsku.

* Intussen word ’n Wellingtonse boer, Martin Malan van Nabygelegen, in die Panorama Hospitaal in Tygerberg behandel ná ’n motorongeluk op die Bo-Hermonpad verlede week.

Malan het Dinsdagaand vir ’n fietsryer uitgeswaai en beheer oor sy bakkie verloor. Hy is met ernstig beseerde nekwerwels uit die wrak bevry.

Malan is later uit die hospitaal ontslaan, maar is die naweek teruggehaas toe hy gevoelsverlies in sy regterhand ondervind het. Ná intensiewe neurologiese toetsing is daar besluit om Dinsdag te opereer.

Dié ongeluk het op dieselfde stuk pad gebeur waar die jong plaasbestuurder Kobus le Roux (21) in Oktober verlede jaar verongeluk het, enkele meters van die ingang van sy ouers se plaas Laboroux.

Besope fietsryers en voetgangers in donker klere het die afgelope jare verskeie noodlottige ongelukke op die Bo-Hermonpad, asook die Hermonpad, veroorsaak.

Laasgenoemde, die verlenging van die R44, word tans herbou en verbreed.

“Ons moet soms tot 20 minute lank wag by die verbouings,” het ’n boer van die omgewing opgemerk.

“Maar ons gee nie om nie. Sodra dit voltooi is, sal daar hopelik minder ongelukke en lewensverlies wees.

“Dis veral saans en in reënweer dat dit met ligte van aankomende verkeer onmoontlik is om voetgangers en fietsryers sonder glimbande op die ryvlak raak te sien.”

* A student from Wellington was injured when a brick was flung through her windscreen outside Stellenbosch at the weekend.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za