Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skrikbewind: Stakers in hof

Skrikbewind: Stakers in hof
 
2006-05-11

Lise Beyers

STAKENDE sekuriteitsbeamptes het die afgelope week weer hulle stem dik gemaak in die Drakenstein gebied, en kollegas geïntimideer en aangerand.

Vier mans het Dinsdag in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklag van ernstige aanranding, nadat hulle twee weke gelede ’n sekuriteitsbeampte in Fairyland aangerand het.

Die polisie het ’n sterk teenwoordigheid by die hof gehad om te verhoed dat daar enige onluste is.

Pieter Gesoont (links), ’n nie-stakende sekuriteitsbeampte, is vroeg Sondagoggend in sy huis in Vanwyksvlei aangeval.

Pieter het vertel dat hy wakker geskrik het en gehoor het hoe daar mans aan sy voordeur slaan en sy naam uitroep.

Die huis was omsingel deur ongeveer 50 stakers wat aangedring het dat Pieter moet uitkom.

Hulle het die deur afgebreek en Pieter het gevlug, sodat hy die stakers van sy huis kon weglok om sy familie te beskerm.

Die groep het hom ingehaal en begin skop en slaan met kieries en bakstene.

Nadat hulle weg is, het Pieter daarin geslaag om na ’n nabygeleë huis te kruip waarna hy sy bewussyn verloor het.

“Toe ek my weer kom kry, lê ek in ’n hospitaalbed. Ek het ten minste 20 steke aan my kop en gesig ontvang, en hulle het my een vinger vergruis.

“Ek het die een man herken, want hy werk saam met my.”

Maandagoggend het ’n groep van 20 stakers ’n sekuriteitswag by die hekke van Agri-Mark in Oos-Boschstraat aangeval.

Hulle het die sekuriteitskantoor met bakstene bestook.

Howard Reid was gelukkig om met net ’n paar skrape te ontsnap.

In Mbekweni is verskeie stakers aangeval wat nie vir ’n verpligte aanmelding by die vakbondlede opgedaag het nie.

Daar is deur leiers aan stakers gesê dat hulle elke oggend by verskeie punte moet bymekaarkom. Diegene wat versuim het, is aangerand en hul huise is beskadig.

Alle sekuriteitsbeamptes by die Paarl Hospitaal het Dinsdagoggend van hul poste gevlug toe ’n groep stakers by die hospitaal opgedaag het. Vir hul eie veiligheid, en dié van die hospitaal, moes hulle vir die res van die dag afwesig wees.

Die polisie het gesê dat daar die afgelope maand ’n styging in winkeldiefstal was, wat direk toegeskryf kan word aan die gebrek aan sekuriteitsbeamptes.

* Four striking security guards have appeared in the Paarl court on charges of assault while the intimidation of non-strikers cotinues.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za