Treindrywer aangekla
2006-05-11
DIE treinongeluk wat in 2003 die lewe van tien pendelaars uit Wellington en die Paarl geëis het, het vanjaar ’n nadraai met die hofverskyning van die treindrywer op aanklagte van strafbare manslag.
Die botsing was om 17:00 op 7 Januarie naby die Muldersvlei spoorwegstasie, toe ’n Metrorail passasierstrein met pendelaars uit Kaapstad in ’n Spoornet goederetrein geploeg het.
Benewens die 10 sterftes, is 50 pendelaars ernstig beseer. Die drywer het ’n voetbesering opgedoen.
Met sy verskyning Vrydag in die Paarlse streekhof is die drywer, Mervyn Matthee (59) van Wellington, gewaarsku om op 24 Julie in die hof te wees vir die aanvang van die kriminele saak.
’n Assessor met wetenskaplike agtergrond, forensiese kenner David Klatzow, is Vrydag deur landdros Annamarie Immelman as assessor in die saak aangestel.
Volgens aanklaer Enslin Orange is ’n assessor met wetenskaplike kundigheid noodsaaklik omdat tegniese verslae oor die sinjaalstelsel, die remme van die trein en die spoorlyn self, as getuienis aangebied sal word.
Die staat sal aanvoer dat daar geen fout was met die remme nie, en dat die botsing veroorsaak is deur nalatigheid van die drywer.
Volgens die klagstaat sou Matthee versuim het om gehoor te gee aan drie rooi sinjaalligte op die trajek voor die botsing.
* The driver of the train which collided at Muldersvlei in 2003, causing the death of ten commuters from Wellington, is to appear in court on a charge of culpable homicide.
More
News
|