Beweerde wanbestuur by Boland Krieket word ondersoek
2006-05-11
’n KLAG van wanbestuur word tans teen die hoof uitvoerende bestuurder van Boland Krieket, Pietie Williams, ondersoek.
Die onafhanklike ondersoek spruit uit beweringe wat onlangs in ’n Kaapse poniekoerant gepubliseer is.
Na bewering sou Williams geld wat ontvang is as deel van die 2002 Wêreldbeker Kriekettoernooi se Nalatingsprojekte onregmatig aangewend het.
Die groot brandpunt is die klubhuis van die Young Peoples Krieketklub wat op die terrein van Daljosafat Stadion gebou is.
Bewerings word gemaak dat dié klubhuis opgerig is vir minder as die R750 000 wat daarvoor bewillig is. Vrae word nou gevra oor wat van die res van die geld geword het.
As deel van dié projek is ’n nuwe klubhuis vir Paarl-Oos Krieketklub op die veld langs New Orleans Sekondêr gebou.
Volgens die president van Boland Krieket, Peter Cyster, word die saak nou onafhanklik ondersoek deur die oud-polisiespeurhoof van die Paarl, Sakkie Kitshoff.
“Na gelang van die uitkoms van die ondersoek sal sekere besluite geneem moet word,” het Cyster gesê.
Hy het bygevoeg dat Boland Krieket nooit regstreeks betrokke was by die finansiële transaksie van die klubhuis nie.
“Die klubs moes ’n lys van behoeftes aan Boland Krieket deurgee. Dié lys is aan die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKRSA) aangestuur.
“Die VKRSA het besluit watter behoeftes toegestaan word en het regstreeks met die projekbestuurders geskakel wat op hul beurt weer met die bouers geskakel het.
“Slegs dié drie partye was betrokke in die bou van die klubhuis. Boland Krieket het nooit enige geldelike betalings ontvang vir die oprigting van die klubhuis nie.
“Sou daar enige wanbestuur of persoonlike verryking gewees het, het dit sonder die medewete van die Boland Krieket se bestuur gebeur,” het Cyster gesê.
Volgens Cyster behoort die onafhanklike ondersoek binne die volgende twee weke afgehandel te word.
More
News
|