Winterweek gee raad oor beroepe
2006-05-18
STAAN jou skooljare nou einde se kant toe, maar krap jy nog bietjie kop tussen ’n loopbaan as laserfisikus, ’n mikrobioloog of ’n wetenskaponderwyser?
Of wil jy eerder werk in ’n laboratorium vir plantbiotegnoloë, tekstielwetenskaplikes of analitiese chemici wat nuwe stowwe ontwikkel, of in die veld as geoloog of dierkundige navorsing doen?
Skryf dan in vir die Universiteit van Stellenbosch se gewilde Natuurwetenskappe Winterweek, van 25 tot 29 Junie.
Dié week gee jou kans om eerstehands meer uit te vind oor die verskillende studierigtings en beroepsopsies wat op die Matie-kampus vir jou wag. En boonop heelwat pret daarmee saam te hê en jou klasmaats van volgende jaar te ontmoet!
Die Winterweek is vir graad 11 en 12 leerders wat belangstel in ’n beroep in die natuurwetenskappe.
Dit sal jou help om ’n keuse te maak uit die verskillende programme en studierigtings wat beskikbaar is, en jou ook blootstel aan ’n paar beroepe wat nie so algemeen bekend is nie.
Soggens word die verskillende departemente besoek, waar jy met die vakdissiplines sal kennis maak en met dosente kan gesels oor fisiologiese wetenskappe, biochemie, mikrobiologie, chemie, fisika, wiskunde, rekenaarwetenskap, toegepaste wiskunde, geologie en plant- en dierkunde aanbied.
Jy sal ook voorligting ontvang oor die moontlike studieprogramme en beroepsmoontlikhede.
Smiddae is dit tyd vir ontspanning met uitstappies na verskillende instansies waar jy kan gesels met mense wat reeds as natuurwetenskaplikes in die arbeidsmark staan.
Daarby is daar ook heelwat informele uitstappies en aktiwiteite met die natuurwetenskappe as tema.
Kry jou aansoekvorm by www.sun.ac.za/science.
Inskrywings sluit op 19 Mei. Die koste beloop R850 en sluit onder meer jou akkommodasie, maaltye en uitstappies in.
Vir navrae, kontak Mariétta van den Worm by 808-3760, faks 808-3680 e-pos mvdworm@sun.ac.za.
More
News
|