Ongeluk ry Vineyards
2006-05-18
ONDANKS ’n reeks ongelukkige gebeure het die eerste span van Vineyards Rugbyklub Saterdag vir Peninsula 12-9 geklop.
Die span moes die veld neem met die wete dat drie van sy spelers in ’n motorongeluk betrokke was op pad na die wedstryd in Muizenberg.
Mathew de Beer (flank), Anton Snyman (losskakel) en Jody Carolissen (senter) was baie gelukkig om nie ernstige beserings op te doen nie, toe hul motor op die N1 snelweg gerol het.
Die ongeluk, gekoppel met die feit dat Moegammat Patel (stut) weens werkverpligtinge ook moes onttrek, Michael Albertyn (stut) Vrydag in ’n spyker getrap het, en Fadel Moerat (skrumskakel) beseer is, het beteken dat Vineyards op die veld moes draf sonder ses van sy gereelde eerstespanspelers.
Thaamir Moerat, Nasief Abrahams en Abbas Hendricks wat ook op die krukkelys was, moes noodgedwonge uitdraf om hul span voltallig te maak.
Die besoekers het egter goeie karakter getoon om die wedstryd te wen, nadat hulle rustyd 9-0 agter was.
Vineyards se drieë is gedruk deur deur die vleuel en die stut, Shaheed Dalvie. Rory Southgate het die bykomende twee punte bygevoeg.
Vineyards II het 24-18 gewen.
Saterdag speel Vineyards op die Faurestraat Stadion teen Richmond Rangers wat tans derde op die ligapunteleer lê.
Vineyards is tans in die tweede posisie een punt voor Richmond en drie punte agter die voorlopers, Kylemore.
Saterdag se wedstryd is dus van groot belang.
More
News
|