Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Duiwe leer nou jaag op Klapmuts

Duiwe leer nou jaag op Klapmuts
 
2006-05-18


BAIE was al seker geprikkel om betrokke te raak by die interessante sport van duiwe-vlieg. Maar die behoefte aan geld, tyd en ruimte kan dalk menige belangstellende se vuur vinnig blus.

Dié faktore hoef egter nie meer ’n probleem te wees nie, met die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif Organisasie (Sanpo) wat nou die Wes-Kaapse nasionale hok op Klapmuts opgerig het.

Die hok, wat sowat 500 duiwe kan huisves, is eers in 2002 by Century City gebou, maar is in Desember na Klapmuts verskuif.

Die plaaslike hok is een van drie in die land, met die ander twee op Noupoort en Johannesburg.

Die idee agter die hok is om die talent van elke duif in sy suiwerste vorm te toets, met so min as moontlik veranderlikes wat ’n rol kan speel.

Enigiemand kan vir R900 ’n duif by die hok inskryf.

Die duiwe word dan onder die kenners-hand van die hokbestuurder, Hendrik Cooper, en sy assistent, OB Claassen, ingebreek en geleer om ’n ware renduif te word.

“In ’n klub-opset is die bepaling van watter duif die vinnigste tyd opstel, altyd ietwat subjektief,” sê Cooper.

“Jy is dalk aan daardie kant van die dorp geleë wat minder wind kry, terwyl ek weer nader aan die weglaatpunt geleë is, maar meer wind vang.

“Hier kry die duiwe dieselfde kos, word hulle in dieselfde hok gehou en word hulle op dieselfde oefenprogram gesit. Hulle neem op ’n gelyke basis deel.

“As jou duif hier wen, wén hy,” verduidelik hy verder.

Die jongduiwe wat tans al die hokke beset, is meestal einde verlede jaar of aan die begin van 2006 gebore.

Hulle sal vanjaar aan vyf wedvlugte deelneem, met vertrekpunte in Laingsburg, Prins Albert, Leeu-Gamka, Beaufort-Wes en Hanover.

As die duif eers by die hok ingeskryf is, raak dit die eiendom van Sanpo.

“Al die duiwe word ná ’n jaar opgeveil, met die verkoopprys wat tussen die duif-eienaar en Sanpo verdeel word,” sê Cooper.

Die prysgeld wat ’n duif egter vir sy baas losvlieg gaan alles na die eienaar.

En met eerste plekke wat soms tussen R60 000 en R80 000 uitbetaal, praat ons van groot kompetisie.

Dit is dus geen wonder dat ’n gebore vlieër in Februarie in Kaapstad vir R120 000 opgeveil is nie. Dit is die hoogste prys wat daar nog vir ’n posduif in die Wes-Kaap betaal is, vertel Hendrik.

Duiwevlieg is ’n gewilde sport regoor die wêreld, met lande soos België, Holland en Duitsland wat aan die voorpunt staan.

Die sukses wat dié lande tydens die jaarlikse Sun City en ander internasionale wedvlugte behaal, word egter hard gejaag deur China en Japan. Die ontwikkeling van die sport in dié lande kry veral ’n groot hupstoot danksy regeringshulp.

Hoewel Cooper nie ’n definitiewe syfer kan gee nie, skat hy die Suid-Afrikaanse duiweboergetal op tussen 10 000 en 12 000.

Hy voeg egter by dat dit ’n sport is wat geen jongmense meer lok nie.

“Dit is harde werk en kos baie geld om ’n voëlhok gevestig te kry.”

Dalk is die gemeenskaplike hok net die ding om dié sport weer vir die jonger geslag aanloklik te maak.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za