Min getalle pootjie stapper
2006-05-18
DIT was ’n teleurstellende twee weke vir die Paarlse atleet Jo-Ann Williams.
Williams, ’n leerder van New Orleans Sekondêr, is gekies vir die Suid-Afrikaanse span wat Saterdag in Madagaskar aan die Suidelike State Jeug Atletiekkampioenskap deelgeneem het.
Soos die vorige week die geval was met die Suidelike Statebyeenkoms in Namibië, moes Williams op die laaste nippertjie hoor dat sy nie haar Suid-Afrikaanse spanmaats sal vergesel nie.
Die rede was dat daar nie genoeg atlete ingeskryf het vir die item, die 5000m stap, waarin dié Paarliet uitblink nie.
Atletiek Suid-Afrika (ASA) het nietemin Williams se nasionale kleure aan haar uitgereik, aangesien dit nie haar skuld was dat sy nie kon deelneem nie.
Op ’n positiewe noot het die vier ander Bolanders wat wel deel was van die span agt (sewe goud en een brons) van die Suid-Afrikaners se 36 medaljes ingepalm.
Onder hulle was Liné Barnard van Hoër Meisieskool Paarl wat ’n goue medalje verower het in die gewigstoot met haar wenafstand van 12,53m.
SA het dan ook die byeenkoms oortuigend gewen, met Seychelles (ses medaljes - een goud, een silwer en vier brons) en Madagaskar (sewe silwer en 14 brons) in die tweede en derde plekke onderskeidelik.
In internasionale atletiekkompetisies word lande geplaas volgens die getal goue medaljes wat hulle verower. SA het 28 van die moontlike 29 goue medaljes ingepalm.
Die 14 mees suidelike state van Afrika het aan die byeenkoms deelgeneem, met atlete van Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, Reunion, Seychelles, Swaziland, Tanzania, Zambia en Zimbabwe wat in aksie was.
Die ster van die byeenkoms was die Stellenbosser, Wilhelm van der Vyver wat drie goue medaljes verower het in die 100m (10,40s), 200m (21,30s) en 1000m medley-aflos.
Sy driekuns het selfs die voorblad van die nasionale koerant in Madagaskar gehaal.
Die twee ander Boland-atlete wat presteer het, was die Caledonners Cornel Fredeicks goud in beide die 400mH (52,60s) en die 1000m medley-aflos en Victor Hogan wat goud behaal het in die diskusgooi (55,93m) en brons in die gewigstoot (14,84m).
Die kampioenskap was die laaste internasionale byeenkoms vir die SA Jeugspan. Die span is nou in voorbereiding vir die 2007 Atletiekseisoen asook die Wêreld Jeug Kampioenskap wat in Julie 2007 in Hongarye sal plaasvind.
More
News
|