Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kan Wellington Roses se pret bederf?

Kan Wellington Roses se pret bederf?
 
2006-05-18


KAN die droom-seisoen wat Roses United Rugbyklub tot dusver beleef die naweek deur sy eweknie van Wellington vertroebel word?

Dit is die vraag wat Saterdag beantwoord sal word wanneer dié twee spanne in hul derby-kragmeting op Pelikaanpark teen mekaar te staan kom.

Roses het verlede Saterdag op Ceres vir Delicious 18-8 (10-3) laat les opsê. Ná sewe agtereenvolgende seges dié seisoen is Roses nog onoorwonne in die Boland se Superliga-kompetisie.

Roses het Saterdag eerste bloed geruik toe die haastige Boland-vleuel, Ricardo Petersen, gaan druk het ná ’n strafskop wat vinnig geneem is deur die skrumskakel, John-Lee Nortjé.

Danie Roman (losskakel) was in die kol met die doelskop.
’n Strafdoel deur Roman het Roses se tien punte van die eerste helfte volgemaak.

Die tuisspan kon met net een strafskop antwoord.

In die tweede helfte het Roses feitlik al die fasette van die spel oorheers.

Hul tweede drie was danksy ’n mooi agterlynbeweging. Deon Williams (vleuel) het met spoed die verdedigers geklop en skouspelagtig in die hoek oorgeduik vir sy vyf punte.

Onder die voorspelers het Igie Korabie (agsteman), Burton Abrahams (slot) en die flanke Ricardo Williams en Franzel September uitgeblink.

Goeie spel is ook gelewer deur Petersen, Roman en die senter Jonathan Schalkwyk.

Die besoekers se verdediging was ook van hoogstaande gehalte, met Delicious wat net een drie kon druk.

Roman het ook met ’n skepdoel geslaag.

Wellington het op sy beurt 32-28 (22-14) met Wesbank afgereken.
Wellington se drieë is deur Clive Samuels, Arthur Snyders, Kris Joubert en HP van Coller (2) gedruk. Samuels was ook sukesvol met twee doelskoppe en ’n strafdoel.

Derby-dag

Saterdag sal beslis een van die hoogtepunte in die eerste ronde van Boland Superliga wees.

Die wedstryd tussen Roses en Wellington sal selfs nog harder wees met die terugkeer van die Boland Kavaliers.

Die Kavaliers het Saterdag in hul laaste Vodacombeker-wedstryd vir WP 14-12 (7-5) geklop.

Die vleuel, Louw Schabort, het albei die Boland se drieë gedruk, terwyl Antonius Verhoeven met twee doelskoppe geslaag het.

Met manne soos Francois Prinsloo, Pieter Wium en Janro van Niekerk wat weer beskikbaar is, behoort Wellington selfs nog meer slaankrag te hê.

Albei afrigters benader dié wedstryd soos enige ander ligawedstryd.

Maar soos Wellington se afrigter, Jaco Stoumann, tereg sê: “Dit is ’n gewone ligawedstryd wat ons móét wen. Ons kan nie bekostig om nog ’n verloor te vat nie, en ek dink Roses is in dieselfde posisie. Die liga is vanjaar baie meer gelyk as verlede jaar.”

Roses se breier, Abie Davids, is ewe oorgehaal.

“Dat die wedstryd sal sorg vir heelwat hoogtepunte is gewis. ’n Oorwinning vir Roses sal ons ’n goeie kans gee om bo-aan die punteleer te eindig ná die eerste ronde, en ook ons kanse verstewig om vir die nasionale klubkampioenskap te kwalifiseer later vanjaar,” het Davids gesê.

Die derdespanwedstryd begin om 13:30 met die hoofwedstryd wat om 16:00 afskop. Toegang is R5 en die tuistoeskouers word aangemoedig om blou en rooi aan te trek ter ondersteuning van hul span.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za