Padvarke kan baie lewens so verwoes
2006-05-18
DIT was nou al twee keer so amper-amper of julle het my fototjie ook in die Paarl Post se Flinkgids gesien by nommer 8 as gevolg van mense wat U-draaie maak voordat hulle kyk of daar enige aankomende verkeer is.
My eerste geval was op 18 November, toe die bestuurder van ’n wit CN Mercedes Benz voor Pacmar net eenvoudig voor my ingedraai het sonder om te kyk.
Ek moes remme vir dood aanslaan, heeltemal uit die pad uitswaai en die bestuurder van die voertuig het so gou moontlik weggejaag in die teenoorgestelde rigting.
Meneer of Dame, ek weet wie jy is, die wiel draai,hy staan nie stil nie, ons kry mekaar weer, Wellington is baie klein. My briekmerke lê tot vandag toe nog 10 meter voor Pacmar.
My tweede geval was 11 April toe ‘n taxi, een van dié wat die nommerplate Bronny een tot vier het, voor my ‘n U-draai gemaak het.
Weereens moes ek brieke aanslaan en uitswaai dat ek hierdie keer in die teenoorgestelde verkeer se grondbaan beland het. Remmerke lê hierdie keer vyf meter in die pad. Gelukkig was daar nie ’n sypaadjie of lamppaal nie.
Meneer ek het die eienaar van die voertuig gekontak, jy weet wie jy is en ek hoop hy het met jou gepraat oor die geval.
Ek wil net by hierdie bogenoemde roekelose bestuurders weet, as julle my nie kon raaksien nie, hoe gaan julle ons kinders en diere raaksien? Kan ek die herstel van my brieke se rekening vir julle aanstuur?
Dit kos niks om jou nek te draai om te kyk of die pad skoon is nie. Moenie kanse vat nie, jy kan lewens verwoes.
Ontstelde bestuurder
More
News
|