Howe in die knyp
2006-05-25
DIE streekshof van die Paarl hanteer tans geen verdere hofsake in die hof vir seksuele misdrywe nie, totdat ’n permanente streekslanddros vir dié hof uiteindelik aangestel word.
Terwyl die wiele van burokrasie stadig draai, word die pyn vir talle getraumatiseerde kinders wat verkrag en gemolesteer is verleng, deurdat hulle lank moet wag om teen hul beskuldigdes te getuig.
Landdros Johan Beyers het meer as twee jaar lank by die sekshof van die Paarl streekhof afgelos op ’n deeltydse grondslag. Sy kontrak het verlede Maart reeds verstryk en is weens transformasie nie hernu nie.
Hier het die sekshof vir die volgende jaar ’n wipplankryery beleef, met geen permanente landdros tot sy beskikking nie.
Die landdroskantoorhoof van Wellington, Patrick Ross, is later “onbepaald” aangestel by die sekshof, terwyl die pos geadverteer is.
Tans voltooi hy net deelsverhore.
Landdros Beyers het tot onlangs ook net deelsverhoorde sake voltooi. Talle sake word nou net uitgestel, alhoewel minderjarige klaagsters gereed is om te getuig.
Een van dié beskuldigdes in dié sake is reeds sedert 2004 in aanhouding.
’n Woordvoerder van die gevangenisdiens het gesê dat dit geweldige druk ook op Korrektiewe Dienste plaas, want die reeds oorvol tronke raak net al hoe voller met die voetslepery van die Departement van Justisie.
Die staatsaanklaer by die streekhof, Anita Potgieter, het gesê dat daar steeds onduidelikheid is oor wanneer ’n permanente landdros vir die sekshof aangestel gaan word, maar daar is gerugte dat daar in Junie onderhoude gevoer sal word.
’n Woordvoerder vir die hof het gesê dat dit nou net ’n kwessie is van administratiewe reëlings wat getref moet word voordat die hof tot normaal sal terugkeer.
Nog ’n bekommerde regsgeleerde het gesê dat dit ’n skande is dat die wiele van geregtigheid tot stilstand gebring word, deur juis die mense wat in beheer van die gereg is.
“Intussen moet minderjarige slagoffers met hul nagmerries op ’n daaglikse basis saamlewe weens uitstelle.”
More
News
|