Water net waar jy kyk
2006-05-25
Lise Beyers
BOERE van oral in die Drakenstein-gebied juig oor die wydverspreide reëns wat die afgelope week geval het.
Die Drakenstein opvangsgebied het die afgelope tien dae die naas-meeste reënvalsyfer in die Wes-Kaap gehad, met 170mm wat in sentraal-Paarl geval het. Op Fairview-plaas aan die westelike hange van die Paarlberg, is daar vanaf verlede Woensdag tot Maandag 308mm gemeet by hul elekroniese weerstasie.
In Trianglepark, Huguenot, het fabrieke onder water beland toe stormwater -aflooppype verstop geraak en die water soos ’n rivier by die straat afgeloop het.
Isis Intertrade, wat tekstiele en meubels invoer, het die ergste skade ondervind, met ’n vloedgolf water wat deur hul pakhuis geloop het.
’n Werknemer, Janine van der Merwe, het gesê dat hulle Donderdagoggend begroet is met ’n wal water van ’n meter hoog, wat buite in die straat afgeloop het.
“Binne-in die winkel was die water ten minste ’n voet hoog, en dit het ons ure geneem om die water uit te kry.”
Duisende rande se skade is aangerig aan goedere wat in kartondose gestoor is.
By Lustigan Village het kanale wat vanaf ’n plaasdam loop, verstop geraak toe die dam oorstroom het. Riviere water het deur verskeie erwe geloop, oor die Lustiganpad, tot in Klein Parys.
Die brandweer moes Saterdagnag inwoners te hulp snel met sandsakke en waterpompe om te keer dat water deur die huise loop.
Die nagskuiling, wat ’n honderd mense kan huisves, was stampvol weens die ysige weer, toe talle haweloses uit die koue probeer ontsnap het.
Inwoners betaal hier R7 per dag vir ’n bed en 3 maaltye, maar reëls moet gehandhaaf word.
Vir boere was dit manna uit die hemel.
Carl Opperman van Agri-Weskaap, het gesê dat dit hoog tyd is dat ’n normale winterreën-seisoen die Boland tref.
“Dis deurdringende reën wat diep intrek, en is alom baie goed vir alle sektore van die landbou, veral koring en vrugte.
Die koue is ook baie goed vir dié bedryf en ons hoop dat dit ’n voorspelling is dat ons verder ’n goeie seisoen gaan hê.”
Die damvlakke het ook goed gestyg, en die Wemmershoekdam het met amper 10% gestyg tot 55,8%. Dit sal na verwagting nog styg weens die afloop vanuit die berge.
’n Woordvoerder van Weather SA het voorspel dat hierdie winter ’n normale winter sal wees met goeie reëns en koue weer.
“Die kouefronte wat die afgelope week oor die land beweeg het, is heel normaal vir dié tyd van die jaar, maar omdat die afgelope paar winters uiters matig was, is ons nie meer gewoond aan die nat, koue weer nie.”
Alhoewel daar die moontlikheid van ligte buie is môre, sal die son tot volgende week skyn, maar die temperature bly steeds laag.
More
News
|