Boccia - ’n sport vir liggaamlik gestremdes
2005-04-14
BOCCIA is sedert 1984 ’n Paralimpiese sportsoort vir persone (rolstoelgebruikers) wat erg serebraalgestremd is, asook diegene met soortgelyke neurologiese toestande.
In Suid-Afrika is dit nog redelik onbekend en tans is daar pogings om dit te ontwikkel om só te voorsien in sportdeelnamebehoeftes van meer ernstig bewegingsgestremde deelnemers.
Boccia is ’n toets vir spierbeheer en akkuraatheid, wat ’n hoë mate van fokus en konsentrasie van deelnemers vereis.
Die doel van die spel is om sagte leerballe te rol/gooi, sodat dit so na as moontlik aan die teikenbal (“jack”) te lande kom.
Kompetisies vind plaas in enkel, dubbel, en ook spanafdelings in verskillende kategorieë.
Hoewel klassifikasie ’n voorvereiste vir internasionale deelname is, wil die Departement Sportwetenskap van die Universiteit van Stellenbosch geleentheid bied aan spelers wat graag aan dié sport sou wou deelneem en in die deelnamekategorie val, om hul vaardighede te toets.
Op Saterdag 23 April sal die eerste van twee Boccia-oefensessies van 09:30 tot 13:00 by die Universiteit Stellenbosch aangebied word.
’n Beskrywing van watter deelnemers kwalifiseer om aan die spel BOCCIA deel te neem, is soos volg:
* Persone met Serebrale Gestremdheid Klas 1: Elektriese rolstoelgebruikers en diegene met beter voetbeheer as handbeheer. (’n Assistent wat buite speelveldarea bly, mag hier gebruik word) Klas 2: Rolstoelgebruikers wat met die hande/arms speel. Geen assistente toegelaat.
* Persone met ernstige liggaamlike bewegingsprobleme: Klas 3: Diegene wat nie arms kan gebruik nie en met behulp van ’n apparaat (ramp) die bal tot by die teikenbal stuur. ’n Assistent binne die speelarea word toegelaat, sonder om ooit na die veldarea te kyk. Persone met hoë rugmurg(nek)beserings (kwadrupleë) mag hier vir deelname kwalifiseer. Klas 4: Diegene met ernstige liggaamlike gestremdhede (maar wat wel arms kan gebruik) en nie van hulp afhanklik is nie, sal hier kwalifiseer.
Vir navrae, skakel Corné Rossouw by 808-4733 of e-pos: cr@sun.ac.za voor Maandag.
More
News
|