Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Raakvat Roses

Raakvat Roses
 
2006-05-25


ROSES se tyd het aangebreek.

Dit is wat die toeskouers van Roses United Rugbyklub Saterdag gedink het, toe dié span 33-20 (13-15) met die huidige Boland-kampioen, Wellington, afgereken het.

Soos verwag is, het die wedstryd ’n groot skare gelok met die sowat 3000 toeskouers wat behoorlik van hulle laat hoor langs die kantlyn.

Met dié aanmoediging was dit geen wonder dat die spanne met vuur onder mekaar ingeklim het nie.

Op Pelikaanpark was dit die besoekers wat eerste bloed geruik het, toe die vleuel, Arthur Snyders, oorgeduik het vir ’n drie ná ’n mooi hoekskoppie deur die skrumskakel, Marnus Hugo.

Roses het egter daarna stelselmatig weer teruggekom in die wedstryd. Die tuisspan se eerste punte was danksy die skopvoet van losskakel, Danie Roman.

’n Verdere strafdoel deur Roman en Wellington se Clive Samuel (heelagter) het die telling 8-6 gemaak.

Samuel het die veld verlaat nadat hy ’n stamp aan sy kop opgedoen het. Sy plaasvervanger, Louw Schabordt, het kort nadat hy sy verskyning op die veld gemaak het onder die pale gaan druk.

Schabordt se drie is gemaak deur die flank, Frankie Horn, wat blitsig in die middeveld ’n gaping geslaan het en ’n paar Roses-verdedigers aan die slaap gevang het.

’n Drie deur Roses se regtervleuel, Deon Williams wat deur Earl Manie verdoel is, het die rustydtelling op 15-13 te staan gebring.

In die tweede helfte was dit weer Wellington wat eerste punte gekry het, toe Hugo gaan druk.

Dit was egter die laaste punte vir die besoekers.

Wellington se pak voorspelers het oudergewoonte sy teenstanders harde bene laat kou. Maar beter organisasie in die dryf-maalbewegings het daartoe gelei dat Roses vir Wellington by tye meters agteruit laat spartel het.

Dié tegniek het hulle dan ook twee keer in die tweede helfte laat druk, vanaf ’n lynstaan in Wellington se kwartgebied.

Gebrekkige kommunikasie tussen Wellington se agsteman, Wimpie Nel en Hugo het ook die span deurentyd onder druk geplaas.

’n Breekslag deur die linkervleuel, Alrich Muller, en gevolglike drie onder die pale het Roses se drie drieë in die tweede helfte volgemaak.

’n Verdere doelskop deur Manie en ’n skepdoel deur Danie Roman het die vreugdevolle sege vir Roses afgerond.

Roses se uitblinkers was Roman, Claude Arendse (senter), Lionel September (haker) en die agsteman, Igie Korabie.

Roses behou dus sy onoorwonne status en sal beslis Saterdag op dié vertoning wil voortbou wanneer hy in ’n wegwedstryd teen Abbottsdale te staan kom. Die busse vertrek om 11:00 en is R30.

’n Maak of breek wedstryd lê Saterdag vir Wellington op sy tuisveld voor wanneer hy teen die ander groot huidige aanspraakmaker in die Boland Superliga, Delicious te staan kom.

Roses is tans bo-aan die punteleer met 26 punte, gevolg deur Wellington (19) en Delicious (14). Daar is nog 11 ligawedstryde wat gespeel moet word.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za