Trane gestort oor trouring
2006-06-01
DIE selfone, selfs die kameras en die horlosies maak nie saak nie. Dis haar troupand, uit goud van haar ouma se trouring, wat ’n inbraakslagoffer van Noorder-Paarl in trane het.
Die gesin - ouers en drie kinders - het nie wakker geword toe ’n inbreker Vrydagoggend so halfeen veiligheidstralies voor ’n venster weggebuig het nie.
Die inbreker het eers ’n videokamera en ’n fiets by die voordeur uitgedra en buite versteek. Daarna het hy in die kinders se kamers ’n wit pet en selfone van hul bedkassies geneem.
Toe die ma van die huis wakker skrik, was die verdagte op sy knieë voor haar bed.
Haar gille het hom die gang af laat hardloop, met haar en haar man se selfone, horlosies, trouringe, haar oorringe en nekketting reeds in sy sakke.
Terwyl haar man hom met sy motor agtervolg het, het die polisie op haar oproep reageer.
Die verdagte is op die Optenhorststraatbrug vasgekeer.
Hy het die fiets neergegooi en oor die reling geduik tot op die sand rivierwal. Dis waar een van die gesteelde selfone later opgetel is.
Die verdagte was skoonveld, met onder meer die troupand wat soveel sentimentele waarde het.
Net die fiets waarmee hy by sy slagoffers se woning aangekom het, het onder ’n bos in die bure se erf bly lê.
Inligting oor die inbrekers of gesteelde goedere kan gegee word aan kapt Klaas Cloete (807-4055) van die Paarlse speurdiens.
* A burglar managed to steal cellphones and jewellery (including an 80-year-old ring) from bedside tables in a home in Noorder Paarl without his victims waking up.
More
News
|