Verkragtingsaak na Hooggeregshof
2006-06-01
DIE hofsaak rakende die ontvoering en verkragting van ’n elfjarige dogtertjie op ’n plaas in Agter-Paarl, is verwys na die Kaapse Hooggeregshof.
Karel Croy is in Februarie in hegtenis geneem nadat ’n meisie op die plaas De Eike uit haar ouerhuis ontvoer is. Sy is later weer voor die huis afgelaai, waar haar ma op haar afgekom het. Sy is erg aangerand en drie keer verkrag.
Die polisie was toevallig die aand op die plaas om ondersoek in te stel na ’n klagte van ’n 28-jarige vrou wat deur vier mans aangerand is voordat haar huis aan die brand gesteek is.
Die verkragte dogtertjie se ma het met die bebloede kind by die beamptes aangekom en hulp gesoek.
Die kind is later weens ernstige inwendige beserings na die Tygerberg Hospitaal oorgeplaas.
Croy, van Vygiekraal, Durbanville, is dieselfde nag op die N1 in hegtenis geneem. Sy voertuig se sitplekke was bloed-besmeer. Hy het na bewering die aand van die ontvoering by sy suster in ’n buurhuis op De Eike gekuier en gedrink.
Hy het glo later die aand deur ’n kamervenster geklouter, die slapende dogtertjie gewurg en haar in sy motor ontvoer en verkrag.
Die saak sal nou in die Kaapse Hooggeregshof aangehoor word, en indien Croy skuldig bevind word, sal die maksimum vonnis van 25 jaar gevra word.
'n Woordvoerder van die polisie het gesê dat dit 'n positiewe skuif is dat die saak hooggeregshof toe verplaas is.
More
News
|