Kitsbank vernietig
2006-06-01
BOEWE het verlede week ’n kitsbank by die Weltevrede winkelsentrum in Vanwyksvlei verinneweer toe hulle toegang tot die kluis probeer verkry het.
Die ingeboude alarm in dié kitsbank is Woensdagoggend om 02:00 geaktiveer terwyl die rowers besig was.
Met die polisie se aankoms op die toneel, was daar twee mans met musse oor hul koppe, maar toe hulle die polisievoertuig sien, het hulle in die nag in verdwyn.
Die kitsbank se voorkant is met ’n ysterpyp oopgebreek en die boewe het binne-in die kitsbank geklim.
Die videokamera bokant die kitsbank wat ongerymdhede opgeneem het, is reeds ’n geruime tyd gelede gesteel.
Die Weltevrede winkelsentrum word geteister deur misdaad, en daar is al verskeie kere by die Spar ingebreek.
Vroeër vanjaar het vyf gewapende mans die winkel bestorm en met meer as R20 000 kontant daar weggekom.
Die afgelope maand is daar reeds twee keer deur die dak van dié winkel ingebreek. Mense word dikwels by die kitsbanke beroof, selfs gedurende die dag.
Die drankwinkel was ook al die slagoffer van rowers, wat personeel met wapens gedreig het.
Polisie patrolleer dikwels dié omgewing wat as ’n ‘hot-spot’ bekend staan weens die drankhuise en die hoë werkloosheidsyfer.
Snags is daar ’n sekuriteitswag by die sentrum, maar weens die voortslepende sekuriteitstaking, was daar die afgelope ruk nie ’n wag nie.
Die eienaar van die sentrum, Wayne Miller, het gesê dat hy nou ’n proaktiewe benadering volg.
“Die sekuriteitstaking raak steeds vir ons, maar ons het reeds ’n kontrak met ’n nuwe sekuriteitmaatskappy geteken, want ons het gevoel dat die vorige maatskappy voete gesleep het.
“Ons beoog ook om tydens die dag ’n wag by die sentrum te hê, en ons het vir die huurders gevra om vir ons hiermee te help. Tot dusver is 90% van die eienaars bereid om hiervoor by te dra.”
Miller het gesê dat hy glo dat dié positiewe stappe sal bydra tot die beveiliging van die sentrum en sy kliënte.
More
News
|