Ligvoets loop die luiperd
2006-06-01
Malané Bosman
HY ken van luiperd en dis beslis sy spoor hierdie, het Lukas Cupido alle liggelowiges in die Bovlei buite Wellington stilgemaak.
Hy meen die twee menere van Natuurbewaring glo hom nou nog nie regtig nie, maar dit maak nie saak nie.
Minder stil was Shannon Booth, die bestuurder van die stoet van 150 waardevolle resiesperde op die Oaklands Landgoed.
Hy het reg tot bekommernis. Hy het maar onlangs in die Bovlei kom woon, en hy het al fluisteringe gehoor van luiperds, maar sulke stories maak mos nie soveel saak totdat dit aan jou sak vat nie.
En verlede Sondag het die storie so amper waar geword in die vallei tussen Groenberg en Bainskloof.
’n Troppie pas-gespeende vullens wat in ’n kamp was wat aan berggrond grens, het uitgebreek en is kilometers verder op die buurplaas Doolhof, eers weer aangekeer.
Wat sou hulle die skrik op die lyf gejaag het, het Lukas gewonder.
Die spore was daar. Hoefafdrukke soos die perde gehardloop en gegly het, en al om die hoefmerke die groot katspore.
Natuurbewaringsbeamptes is ontbied, maar hulle was eers skepties. Van die gekolde katte was daar geen teken (behalwe die spore) meer nie.
Lukas het net geglimlag.
Hy en twee medewerkers het die wyfie en haar twee kleintjies nog gesien terwyl hulle die omheining reggemaak het. Die drie was juis toe agter ’n trop senuagtige bobbejane aan.
“Ons ken mos luiperd hier,” het Lukas vertel.
“Jare gelede het ’n buurman vier skape in ’n kraaltjie teen sy huis gehad. Die luiperd het een kom haal. ’n Ander man hier het ’n kalfie verloor.
“Maar dit gebeur nie aldag nie. Die luiperds hoort hier in die berg.”
* Leopards on Bain's Kloof have scared horses on Oaklands Estate, Wellington.
More
News
|