Slagting op paaie
2006-06-01
TEN minstse drie mense is die afgelope naweek op die paaie dood, en talle is beseer in ongelukke.
Twee mans is Saterdagaand in Jan van Riebeekweg dood in ’n kop-aan-kop botsing tussen ’n Fiat Uno en ’n minibus taxi, net buite Wellington, tussen die Champagneweg en Weltevrede-afritte plaasgevind.
’n Ooggetuie, Marco Salies, sê dat hy in die rigting van die Paarl gery het, toe hy opgelet het dat die Uno in die verkeerde baan ry.
“’n Vragmotor wat in die rigting van Wellington op pad was, het uitgeswaai, maar die taxi kon nie vinnig genoeg uitswaai nie. Die twee voertuie is teen ’n hoë spoed teen mekaar vas.”
Die bestuurder en een insittende van die Uno is op slag dood, en die reddingsdienste moes die motor se dak oopsny om Andy Gillomee (36), van Brackenfell en Fernall Davids (43), van Lantana, se lyke te verwyder.
Davids laat sy vrou Sandra en ses kinders na. Sy begrafnis vind Saterdag om 10:00 vanaf Mossiestraat 483, Amstellhof, plaas, en 10:30 by die Evangelie Pinkster kerk.
Die bestuurder van die taxi, Shaun Jacobs (23), is met ligte beserings na die Paarl Hospitaal geneem.
* Twee-en-twintig leerders van Hexvallei Sekondêr op De Doorns, het ’n noue ontkoming gehad toe die bussie waarin hulle gery het teen ’n stilstaande vragmotor gebots het.
Die graad 12 leerders was onderweg na Athlone waar hulle ’n vertoning van hul voorgeskrewe boek, Kringe in ’n Bos, sou gaan kyk het.
Die vragmotor het by die stilhouplek gestaan net anderkant die uitgang van die Hugenote-tonnel, waar vragmotors moet stilhou om na ’n laer rat oor te skakel. Die bussie het hier in die vragmotor vasgejaag.
Die bestuurder van die bussie, Frans Olifant (38), van Touwsrivier, is bykans twee ure lank agter die stuur van die bussie vasgekeer, terwyl die reddingsdienste gesukkel het om die bussie en die vragmotor uitmekaar te kry.
Hy is met ernstige beserings na die Paarl hospitaal geneem.
Die beseerde kinders is ook na die Paarl hospitaal geneem vir behandeling, en een leerder, Daniël van Wyk, is met ernstige kopbeserings na Tygerberg hospitaal geneem.
* ’n Voetganger is op die Bo-Hermonpad dood, toe hy voor ’n aankomende motor beland het.
Jerome Arendse is op slag dood toe hy om 03:30 deur die motor getref is.
* Three people were killed, and many injured, in numerous road accidents during the past weekend.
More
News
|