Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vlytige seuns laat harte warm klop

Vlytige seuns laat harte warm klop
 
2006-06-01

David Joshua

BAIE ander seuns het seker hul hoede agterna gegooi oor die lekker tuisbly verlede Donderdag. Dit was immers Hemelvaartdag en hoewel nie meer ’n amptelike vakansiedag nie, het baie skole dié dag gesluit.

“Ons wou graag iets vir die gemeenskap doen en het hier by die Hillcrest-kliniek kom inloer om te kyk waar ons kon help. Al is dit dan net om die terrein skoon te maak.”

Só praat Gary-John Afrikaner, een van drie 15-jarige graad 10 leerders by Bergrivier Sekondêr op Wellington.

“My maats, Raymiro Fortuin en Shaun de Vries, was te skaam om by die kliniek te kom vra, toe stuur hulle my,” sê hy.

“Toe ek gister by die kliniek kom, het bevelsuster Audrey Sauls gedink dat ek siek is en gevra of sy my kan help met my siekteprobleem.

“Ek het vir haar gesê dat ek nie siek is nie en dat ons graag die kliniekgronde wou skoonmaak en opruim, want dit was vuil en die gras het hoog gestaan.

“Ek het byna gelag vir die verbasing op haar gesig,” gaan hy voort.

Sê Shaun, “vanoggend het ons drie op die afdag hier by die kliniek begin en ons tuingereedskap saamgebring.

“Die skoonmaak-projek pas ook netjies in by ons onderwyser, mnr Russel Williams, se opdrag om ’n gemeenskapsprojek te identifiseer waar ons kan help.

“Nou het ons ingespring, want ons bly hier in Hillcrest en ons gemeenskap maak almal van die kliniek gebruik. Ons moet dit op ons neem om dit op te pas en skoon te maak en so te hou,” praat die drie stuks saam so half grootmensagtig.

Die ander verpleegpersoneel het almal nader gestaan om te kom kyk hoe fluks die driestuks die terrein begin opruim het.

Dit was ’n geskoffel en gehark vir ’n vale en kort voor lank het hulle die tuinvullis in plastieksakke geprop, gereed om later deur die munisipale vragmotor verwyder te word.

Suster Estelle Beukes sê dat dit nie aldag is dat outjies hierdie inisiatief neem om iets soos dit te doen nie.

“Ons gaan hulle nou sommer vir onsself vat, want mens kan sien hulle is toekomstige gemeenskapswerkers. Ons het hoeka nie ’n opsigter hier nie.

“Hulle het gesê dat hulle ouers glad nie omgee dat hulle so besig bly nie. Dis te wonderlik om te weet dat daar nog sulke hardwerkende
kinders is.”



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za