Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gebedsketting vir 10 dae

Gebedsketting vir 10 dae
 
2006-06-01


CHRISTENE wat reeds die afgelope week betrokke was in Wellington se Tien Dae van Gebed en die sogenaamde “Boiler Room” gebedsaksie in die Marthasaal, is opgewonde en verryk deur die ervaring.

Die aksie, wat deur gelowiges van verskillende denominasies geïnisieer is en die beginsels om herlewing aan te wakker van Transformation Africa volg, het verlede Donderdag op Hemelvaartdag om 08:00 begin.

’n Deurlopende 24-uur gebedsketting is sedertdien in die Marthasaal aan die gang gehou, en sal Sondag om 08:00 ten einde loop.

Dit simboliseer die Pinksterperiode van tien dae na Hemelvaart tot by die uitstorting van die Heilige Gees.

Dit val ook saam met Transformation Africa se 40-dae van gebed in meer as 200 lande, wat Sondag afgesluit word deur massasaamtrekke, ook in die Paarl.

Verskeie kerke, gebedsgroepe, skole en selgroepe van regoor die spektrum van die Wellingtonse gemeenskap het reeds deelgeneem aan die gebedsketting, en het saam met ander gelowiges gebid vir herlewing.

Volgens organiseerder Jacques Truter is dit veral verblydend om te sien hoe die landbou- en besigheidsgemeenskappe hierdie inisiatief aangegryp het.

“Ons het na van die sakemanne gegaan om te vra of ons vir hulle kan bid, maar toe het hulle die proses omgeswaai en gevra om self te kan kom bid, ook vir hul mede-besigheidslui.”

Dieselfde gebeur met die boerderygemeenskap, vertel Jacques, wat, soos die besigheidslui, self hul werkers na die Marthasaal bring om saam te kan bid vir mekaar.

Die Marthasaal is omskep in ’n sogenaamde “Boiler Room” waar gelowiges op ’n kreatiewe en gefokusde manier kan intree en bid vir hul mede-gelowiges, hul vriende en hul land.

Deur plakkate, mure waarop mense foto’s kan plak van hulself of hul besigheid, musiek en kleur is besonderse ruimtes van afsondering geskep waardeur mense kan beweeg en hulself afsonder in belydenis, vergewende gebede, lofsang en aanbidding.

By die Klaagmuur kan mense onder meer die name van geliefdes wat gebed nodig het, opplak, terwyl hulle ook kans kry om uit diensbaarheid iemand se voete te was.

’n Spesiale fokus is ook geplaas op leraars van die dorp en andere wat aktief in die bediening staan.

“Deur foto’s van hul gesinne op te plak, gee ons die gemeenskap kans om vir hulle in te tree.”

Daar word ook vir plaaslike polisielede gebid.

“Ons wil mense die kans gee om op ’n kreatiewe en uitdagende manier God te kan beleef, vertel Jacques.

“Dis natuurlik vir sommige mense heeltemal anders as die gebruiklike manier van op hul knieë gaan in gebed langs hul bed.”

Vir meer inligting, kontak 084-254-6455. Mense is welkom om enige tyd by die Marthasaal te gaan bid.

* In die Paarl word ’n byeenkoms Sondag om 14:00 in die Toringkerk aangebied.

Toegang is gratis. Vir meer inligting, kontak Edwin by 072-456-1900.



More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za