Paarl, Albions deel louere
2005-04-14
DIE uitslae in beide voorwedstryde van die twee rugbyklubs, Paarl en Albions, was Saterdag ’n akkurate vooruitsig van wat in die hoofwedstryd sou gebeur.
Paarl II en III het Albions naelskraap met onderskeidelik 13-12 en 15-13 op Faurestraat Stadion geklop.
Die gelyke sterkte van die twee klubs se spanne is egter verwesenlik in die 10-10 telling van die A-spanne.
Hoewel die tuisspan goed vertoon het in die skrums, het die springers van Albions hul ore aangesit in die lynstane.
Die nuwe losskakel, Corné van der Merwe, het ’n groot verskil in die Paarliete se span teweeggebring.
Van der Merwe het die spel goed dikteer en die Albions-verdediging aan die raai gehou.
Die besoekers het in die eerste helfte te veel foute begaan, maar algaande beter gespeel.
Die Paarl-span kan egter net homself blameer vir die verspeelde kans op ’n sege aangesien hy met die meerderheid balbesit en gebiedsvoordeel geniet het.
Albions verdien egter ’n pluimpie vir die manier waarop hulle vasgebyt het en die gelykmakende punte in die laaste 10 minute aangeteken het.
Vir Paarl het Marco Martin ’n drie gedruk en Van der Merwe het met ’n doel- en strafskop geslaag. Die agterlyn, Huntie Maas en Lambert Myburgh was Paarl se uitblinkers.
Albions se strydros, Ju-Wayne Cyster, het hul drie gedruk, terwyl Enrico Jordaan sukses behaal het met ’n doel- en strafskop.
Die regtervleuel, Alvin Hugo, het telkens die Paarliete se verdediging getoets, en was ’n kranige verdediger. Hy is as Albions se man van die wedstryd aangewys.
Saterdag is dit weer ’n Paarlse derby wanneer, Paarl en Young Peoples mekaar op Daljosafat Stadion die stryd aansê.
Albions speel teen Silvertree op Faurestraat Stadion.
* Die Paarl Old Boys het Vrydagaand op die Boy Louw-veld teen die Old Boys-span van Messina te staan gekom.
Die Paarliete was vanuit die staanspoor te sterk vir die besoekers en het met 10 doele teen een gewen.
Die Paarlse man van die wedstryd was Jacques Prinsloo. Die Messina-span is na afloop van die wedstryd op ’n snoekbraai getrakteer.
More
News
|