Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Groot aksie kom in derby

Groot aksie kom in derby
 
2005-04-14


DIE tafel is behoorlik gedek vir ’n titaniese derby-kragmeting Saterdag tussen die rugbyklubs van Wellington en Roses United.

Wellington, die verdedigende kampioen in vanjaar se Boland Superliga A1, het Saterdag in ’n wegwedstryd vir Saldanha 24-13 (14-3) geklop.

Gerdus le Grange, Pieter Wium, Gordon Johnson en Johan van Coller het Wellington se drieë gedruk. Theuns Stoffberg het met twee doelskoppe geslaag.

Roses United het Saterdag op sy beurt verras toe hy vir Ceres op Pelikaanpark 27-8 (17-3) geklop het.

Die tuisspan het geensins toegelaat dat Ceres met hul sterk voorspelers domineer nie en het soos tiere verdedig.

Roses se kaptein, die flank Clement Lewis en die agsteman, Ignasius Koerabie was die twee ysters in die verdedigingslinie.

Die jong Clement, ’n oud-leerder van die Hoër Landbouskool Boland, het ná skool ’n junior kontrak by die Blou Bulle losgeslaan.

Hy is egter terug in die Boland en het alreeds saam met die Boland Kavaliers geoefen.

“Sy teenwoordigheid het ’n groot verskil in die span gemaak,” sê Roses United se ondervoorsitter, Willie Smal. “Hy lei deur ’n goeie voorbeeld vir sy spanmaats te stel.”

Roses se agterlyn het kringe om die Ceres-verdedigers gehardloop.
Roses se drieë is deur Claude Arendse (2), John-Lee Nortje, Devin van Wyk en Michael Abrahams gedruk. Arendse het met ’n doelskop geslaag.

Met twee seges op hul kerfstok is beide Wellington en Roses nog onoorwonne dié seisoen en geeneen van die twee sal Saterdag die onderspit wil delf nie.

Hopelik sal Saterdag se stryd nie soos verlede jaar afgeblaas word nie.

Die wedstryde tussen die twee klubs is in die afgelope jare gekenmerk deur bakleiery op en van die veld af.

Volgens Smal het die Boland Rugby Unie ’n gedragskode opgestel wat deur elke klub in die Boland onderteken is.

“Ons is gefokus om goed te doen. Dit is duidelik aan die uitslae wat ons tot dusver behaal het.

“Ons het Saterdag die spelers van Ceres ná die wedstryd ontvang en dit was baie lekker en hulle was heel tevrede,” het Smal Dinsdag gesê.

Volgens Wellington se klubpresident, Dolf Stemmet, voorsien hy geen probleme vir Saterdag se wedstryd op Boland Stadion nie.

“Daar sal geen drankverkope wees tot ná die eerstespanwedstryd nie en toeskouers sal nie toegelaat word om die stadion te verlaat en weer terug te kom nie,” het Stemmet gesê.

“Ons verwag wel dat dit ’n klipharde wedstryd gaan wees. Die Roses-manne het reeds vir ons laat weet, ons is nou die enigste hekkie waaroor hulle nog moet kom,” het Stemmet met ’n goedige laggie gesê.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za